Skip to main content

Verlede week net na 18:00 die aand is ‘n boer en sy verloofde met ‘n vuurwapen aangehou, vasgebind en aangerand. Die voorval het op ‘n kleinhoewe in die Zusterstoom-omgewing naby Bronkhorstspruit plaasgevind.

Luidens ‘n verklaring wat deur konst Munyadziwa Ramovha, woordvoerder van die Bronkhorstspruit polisie vrygestel is, is die boer deur ‘n man met ‘n vuurwapen genader. Hy is toe deur die verdagtes by die huis in gedwing, terwyl een geskree het: “Shut up, I will shoot you.” Binne die huis het sy verloofde desperaat probeer om die veiligheidshek te sluit, maar is deur drie aanvallers oorval.

“Die aanvallers was aggressief en het na die kluis gesoek,” het konst Ramovha gesê.

Volgens Ramovha is die vrou erg aangerand en het ‘n sny van twee sentimeter aan haar regteroog opgedoen.

Die aanvallers het van die toneel gevlug met die slagoffers se Toyota bakkie, ‘n gaspistool, ‘n windbuks, juweliersware, skootrekenaar, buitelandse valuta, asook die slagoffer se verloofring.

Die Toyota-bakkie is later op die R25 gevind.

Die paartjie is met maskeerband vasgebind, gordels en elektriese kabels en kussingslope is oor hul gesigte gesit.

Geen arrestasies is sover gemaak nie.

Enigiemand wat inligting het, kan die Bronkhorstspruit-polisie by 013 932 9222 kontak.

Leave a Reply

error: Content is protected !!