Skip to main content

SONJA BROWN

Refiloe Nt’sekhe is die regte vrou om die Ekurhuleni burgemeesterketting te dra as sy al haar planne kan uitvoer.

Sy sê dat die verkiesing ‘relatief vry’ was volgens haar, maar dat daar baie probleme was. Sy self het ‘n goedgekeurde ‘spesiale stem’ vir Saterdag, 30 Oktober, gehad – om te stem asook om tuisbesoeke te doen -, maar is meegedeel dat sy nie ‘op die sisteem’ is nie, en moet Maandag weer probeer om te stem.

Dit was nie ál probleem wat sy ondervind het nie. By verskeie wyke waar sy aangedoen het, het die skandeerders nie gewerk nie.

By ‘n ander wyk was die stasies tussen prosesse vanaf skandeerders tot die stempel van stembriewe te ver uitmekaar, en die waarnemende offisier kon byvoorbeeld nie verseker dat mense se stembriewe agterop gestempel word nie. Dié wat nie gestempel was nie, sou korrup verklaar word, m.a.w. dit sal nie geldig wees nie.

By die Lady Fatima Church kon sy duidelik sien dat die vise-waarnemende offisier die waarnemende een oordonder het, al was dit duidelik dat hy/sy niks van die stemproses geweet het nie.

Die hoeveelheid townshipmense wat moes opdaag om te stem was skokkend laag, maar sy skryf dit toe aan die wegblystem van mense wat dik is vir die ANC se swak heerskappy. Slegs 34% van Ekurhuleni se geregstreerde stemgeregtigdes het opgedaag.

Sy wag angstig op die uitslae, en het slegs een uur geslaap sedert die verkiesinglokale om 04H00 vanoggend gesluit het.

Refiloe het al vele hoë poste in haar lewe beklee, waaronder die bemarkingsbetuurder by die SABC – ‘n pos waarvoor sy geen ooghare gehad het nie – maar sy kan nie genoeg kere sê dat politiek haar roeping is nie. Sy was voorheen ‘n Lid van die Provinsiale Wetgewer en is al 10 jaar in politiek betrokke.

Nt’sekhe het ‘n armlengte lys van goed wat sy wil verander/regmaak in Ekurhuleni. Sy wil die ou Kempton Park hospitaal weer in hergebruik stel aangesien dit sinloos is dat dié al vir jare in ongebruik staan en net verder verniel word. Sy het aan Die Waarheid vertel dat sy haar tesis oor die einste hospitaal se hergebruik gedoen het en wil dit met die Premier van Gauteng opneem.

Sy het Plastic City bespreek, en ook genoem dat daar nog ‘n ‘probleem-woonarea’ genaamd Angelo in Boksburg is wat nes Plastic City op myngrond staan. Sy noem hoe gevaarlik dit is vir die mense om op myngrond wat vol tonnels is te woon. En dan noem sy dat sy al baie studies op oorsese verlate mynskagte gedoen het, en wil kyk of verlate skagte hier in ons land nie as eletrisiteitstoorsentrums gebruik kan word nie.

“Daar is baie ongebruikte, verlate geboue in Ekurhuleni wat gebruik kan word om haweloses en mense wat in agterplase in sinkhuisies woon, te hervestig.

“Ek wil lewens verander. Ek wil Ekurhuleni regmaak!”

Vir Die Waarheid klink Refiloe Nt’sekhe of sy die pyp kan rook.

Leave a Reply

error: Content is protected !!