Beurtkrag onder Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter, was die ergste wat Suid-Afrika nog ooit gesien het, het nuwe data wat deur die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) vrygestel is, getoon, berig MyBroadband.
Jarrad Wright, die hoofingenieur by die WNNR, het ‘n grafiek gepubliseer wat die vlak van beurtkrag van 2007 tot 2021 toon.
Die grafiek het getoon dat 2020 en 2021 die swakste jare op rekord vir beurtkrag in Suid-Afrika was met onderskeidelik 1 798 MWh en 1 914 MWh.
De Ruyter dien sedert Januarie 2020 as Eskom se hoof uitvoerende beampte, wat beteken dat hy in beheer was tydens die land se ergste beurtkragperiodes.
Wat veral kommerwekkend is, is dat Eskom ‘n aansienlike vermindering in beurtkrag in beide 2020 en 2021 belowe het.
De Ruyter het in Mei 2020 aan die nasie gesê dat hul vooruitsigte vir die winterseisoen min tot geen beurtkrag toon nie.
Hy het bygevoeg dat indien fase 1 of fase 2 beurtkrag vereis word, hierdie kragonderbrekings waarskynlik eers in die aand geïmplementeer sal word.
Kort ná De Ruyter se belofte het beurtkrag toegeslaan en vir die res van die jaar voortgeduur. 2020 was ‘n rampspoedige jaar vir kragonderbrekings.
Eskom het Suid-Afrikaners probeer hoop gee deur vir hulle te sê die beurtkrag is die gevolg van uitgebreide instandhoudingswerk.
Hierdie uitgebreide instandhouding, het Eskom gesê, sal ’n meer betroubare opwekkingstelsel skep en sal beurtkrag vanaf September 2021 “aansienlik verminder”.
Weereens het Eskom nie sy belofte nagekom nie.
In Oktober het Suid-Afrikaners twee weke van beurtkrag beleef — die ergste verduistering ooit gedurende ‘n Oktober-tydperk.
Die hoofrede vir die onlangse beurtkrag is onbeplande onderbrekings, wat wys dat Eskom se opwekkingstelsel onbetroubaar bly.
De Ruyter het erken dat Eskom se aanlegte swak onderhou en onbetroubaar is.
“In hierdie stadium kraai ons swak onderhoude kragsentrales koning. Dit is hoekom ons beurtkrag gehad het,” het De Ruyter aan The Money Show’s, Bruce Whitfield, gesê.
“Ons kon dit vermy het, maar ongelukkig het die gebrek aan betroubaarheid van ons stelsel ons ingehaal, en ons moes beurtkrag implementeer.”
Energiekenner Chris Yelland het gesê daar is goeie redes om erg bekommerd te wees oor die stand van die kragstelsel in Suid-Afrika.
“Eskom se ou aanlegte word ouer, die nuwe aanlegte gedra hul soos ou aanlegte, en nuwe opwekkingskapasiteit kom nie vinnig genoeg in werking nie,” het hy gesê.
Mike Rossouw, uitvoerende hoof van Energy Thought Leader, het selfs verder gegaan en gewaarsku dat Eskom na aan ‘n totale ineenstorting is.
“Ek sien nie ’n lig aan die einde van die tonnel nie. Om die waarheid te sê, ek sien ’n groot trein by ons afkom in die tonnel,” het Rossouw gesê. “Ons sal beslis daaraan gewoond moet raak om in die donker te wees.”
De Ruyter word algemeen beskou as die beste uitvoerende hoof wat Eskom oor die afgelope dekade gehad het en het die kragvoorsiener se finansiële situasie aansienlik verbeter.
Sy prestasie as dit by beurtkrag kom, is egter swak.
MyBroadband het Eskom om kommentaar gevra oor die verhoogde beurtkrag onder De Ruyter, maar die maatskappy het nie gereageer nie.