Skip to main content

Dit is nog baie vroeg in die stemtelproses, maar in hierdie stadium van die verkiesing kom daar reeds ‘n paar tendense na vore.

Soweto se kiesers het in massas hulle ontevredenheid met die ANC gewys deur van die stembus af weg te bly. Herman Mashaba se Action SA het ‘n paar kiesafdelings in hierdie stad by die ANC weggeneem.

Oor die algemeen lyk die stempersentasie bitter laag, met townshipbewoners wat in groter getalle van die stembus af weggebly het as inwoners van die voorstede.

Dit is waarskynlik goeie nuus vir partye wie se groot steun in die voorstede gesetel is, insluitende die DA, Action SA en VF+.

Teen 2:00 vanmiddag het die jongste beskikbare uitslae in die 2021 munisipale verkiesings soos volg gelyk:

In Johannesburg was die ANC met 34.55% van die getelde stemme voor die DA met 25.35%, Action SA, die verrassing in die Goudstad, was kort op die DA se hakke met 17.89%, gevolg deur die EFF (11.42%) en die VF+ (1.86%).

In Tshwane was die DA met 40.4% voor die ANC (28.16%), gevolg deur die die VF+ (10.5%) en die EFF (9.15%).

Action SA (7.16%) het nie heeltemal soveel steun soos in Johannesburg gekry nie.

In Ekurhuleni is die ANC met 36.62% voor die DA (30.77%), die EFF (13.79%), Action SA (5.97%) en die VF+ (4.37%).

Dit is nog vroeg, maar in die stadium lyk dit of die ANC baie steun in hierdie munisipaliteit verloor het in vergelyking met 2016. Dit lyk asof hulle na ‘n koalisievennoot – waarskynlik die EFF, gaan moet vry om hier te bly regeer.

In Mangaung (Bloemfontein) is die ANC voor met 41.41% van die getelde stemme. Die DA het 35.02%, die EFF het 8.71% en die VF+ 6.33%

In Kaapstad is die DA (61.85%) los voor, gevolg deur die ANC (14%).

In Nelson Mandelabaai (Port Elizabeth) het die ANC 43.33% van die stemme en die DA 37.37%.

In eThekwini (Durban) was daar vrese dat die onlangse Jacob Zuma-debakel die ANC duur te staan gaan kom, maar hulle lyk vroeg-vroeg baie sterk met 52.7% van die steun teenoor die DA se 21.62%.

Leave a Reply

error: Content is protected !!