Vier polisiebeamptes is in beskuldigdebank nadat vier vroue aangerand en op hulle geskiet is nadat hulle die lede se toenadering van die hand gewys het.
Rubberkoeëls is deur die polisiebeamptes afgevuur en een van die vroue is in die maag getref. Die voorval, wat op 25 September in Leiden, Delft, plaasgevind het, is op kringtelevisiebeeldmateriaal vasgelê.
Grace Langa, woordvoerder van die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat (Opod), het gesê die beamptes, wat lede is van die Nasionale Intervensie-eenheid wat in Pretoria gesetel is, het verby ‘n groep vriende gery wat hulle gegroet het.
Een het glo die vroue gevra of hulle saam met hulle wil ry en nadat die vroue geweier het en gevra het hoekom hulle stilgehou het, het die beamptes uit die wit ongemerkte voertuig geklim.
Beeldmateriaal wys hoe vier vroue hardloop, en ‘n beampte in uniform een van die vroue gryp.
’n Tweede beampte het op twee van die vroue geskiet terwyl hulle probeer weghardloop het.
Die beamptes is op waarskuwing vrygelaat nadat hulle vir gewone en ernstige aanranding in hegtenis geneem is.