Die treffer-reeks Devilsdorp het Suid-Afrikaners voor hulle televisiestelle geboei gehou, maar vir die joernalis Marizka Coetzer het dit stringe nuwe deure oopgemaak.
Coetzer was die skrywer van die boek Uitgewerp, die verhaal waarop Devilsdorp gebaseer is. Dit vertel die storie van die elf afspraak-moorde in Krugersdorp deur die Electus per Deus-kultus, maar die meeste Suid-Afrikaners sal haar onthou as die verslaggewer wat op die veroordeelde reeksmoordenaar Le Roux Steyn verlief geraak en ‘n verhouding met hom in die tronk aangeknoop het.
Coetzer, deesdae ‘n nuusjagter vir ‘n groot Gautengse dagblad, is reeds druk besig om aan die opvolg van dié boek te werk.
“Ek het reeds 9 000 woorde geskryf,” het sy vanoggend aan Die Waarheid vertel. Tussendeur is sy besig om aan nog ‘n boek te beplan, maar sy is nog geheimsinnig oor hierdie projek. “Dit is nog ‘n moordenaar se storie. Daar is nog hofsake wat eers afgehandel moet word.”
En vorentoe is daar nog ‘n TV-reeks wat wag.
Haar werk aan die Krugersdorp-moorde het van Marizka ‘n huishoudelike naam gemaak.
“Ek het ‘n paar weke gelede ‘n Francois van Coke-storie gedoen, en Van Coke het vir my gesê ek is nou ‘famous’. Hy het selfs gevra om ‘n foto saam met my te laat neem en het dit vir sy vrou gestuur. Dit was ongelooflik!”
Dit is veral die mens agter die moordenaars wat haar verbeelding aangryp. “Ek wil ook nog eendag die Springs-monster se verhaal skryf. Ek wil my vestig as die stem vir die ander kant, die joernalis wat die menslike kant van nuus uitbeeld.”
Ondanks haar kitsroem en swaar verworwe sukses, bloei haar hart.
Haar verhouding van ‘n jaar het pas op die rotse beland. Sy sê sy dink die omstredenheid van Devilsdorp het eenvoudig te veel vir haar kêrel geword.
“As mens in ag neem dat ek ‘n mislukte huwelik, die debakel met Le Roux en nou die einde van ‘n ernstige verhouding agter my het, is liefde dalk nie vir my nie,” sug sy voordat sy weer laat spat om aan die volgende groot nuusstorie vir die land te werk.