Skip to main content

SONJA BROWN gee haar indrukke oor die ongelooflike drama rondom die mitologiese Tembisa 10.

Tienling ‘n nul-ling?

Die Tembisa 10-ling is klaarblyklik hoofrolspelers op ‘n deurskynende verhoog, en die ma, Gosiame Sithole, ‘n briljante teaterregisseur.

Toe die gordyne in Junie oopgaan, het die gehoor oopmond gesit en wag vir die nuwe klein akteurs en aktrises se verskyning. Die koerantfotograwe en joernaliste het kameras staangemaak, mense van die Guinness-wêreldrekord-boek het lippe afgelek, en gretige skenkers wou net bankbesonderhede hê om vir die kindertjies te sorg.

Bedryf 1, toneel 1: mense hol rond en soek naarstigtelik na die hospitaal wat die tienling in die lewe gehelp het. Almal speel die rol van Sherlock Holmes, gretig om die eerstes te wees wat die gesiggies aan die wêreld kan ontbloot.

Die soeke duur voort, en die gehoor, waaronder menigte regeringsamptenare, raak rusteloos. Waar is die kinders dan? En waar is die ma?

Bedryf 1, toneel 2: dromrol… Die verhoog se ligte verdof en die kollig beweeg rond voordat dit op ‘n vrou tot stand kom. Die ma is gevind. Minus die babas, en mét rekords wat wys dat sy nie onlangs swanger was nie.

Die gehoor word opgesweep, en iewers gil iemand: ‘Malhuis toe met jou!’

Staatsamptenare gee gehoor en die stom ma word vir evaluasie gestuur.

Dieselfde amptenare staan pa vir beskuldigings dat hulle mediese nalatigheid probeer toesmeer. Dit veroorsaak chaos op die verhoog.

Die gehoor se asems word ingehou, want dieselfde staatsamptenare dreig om Piet Rampedi en Independent Media (IP) hof toe te vat.

Die spanning hoop op. Die springmielies in die gehoor se hande raak minder.

Independent Media gooi water op die amptenare se vuur met ‘n verslag wat glo bevestig dat Sithole onlangs iewers ‘n keisersnee gehad het.

‘n Nuwe aktrise tree op die verhoog. Dr. Mpho Pooe, ‘n ginekoloog, knik kop vir die IP se bewyse.

‘n Hiëna lag iewers in die agtergrond. Of is dit iemand wat weet dat Pooe twak praat?

Bedryf 1, toneel 3: Dr. Iqbal Survé, IP se uitvoerende voorsitter, staan met ‘n P.W. Botha vinger op die verhoog. “Die regering moet rekenskap gee van wat hulle met die kinders gemaak het,” snou hy.

Die gehoor is nie seker of hulle moet lag nie, en of die man ernstig is nie.

IP pluk ‘n boekrol na vore, rol dit oop, en lees:

Twee van die babas is na geboorte dood. Die ma was na die volgende hospitale geneem:

Steve Biko Akademiese Hospitaal, Lenmed Zamokuhle Privaat Hospitaal, Dr George Mukhari Akademiese Hospitaal, Tembisa Hospitaal.

Mm, iemand moet die regisseur afdank. Of ‘n beter verhoogstuk skryf. Een wat geloofwaardig is, want die gehoor kry nou ‘n prentjie in hul koppe van hoe ‘n ma van een hospitaal na ‘n ander gejaag word. Vir wat? Om net nie opgeneem te word nie? Want dit is hoe dit lyk.

Steve Biko-hospitaal sê daar is g’n tienlinge by hulle gebore nie.

Lenmed beaam Steve Biko se woorde.

En die hospitaalkoor groei. Almal sing dieselfde lied uit volle bors.

Fotograwe en joernaliste se skouers hang. Hulle wil ‘n ander lied hoor.

Bedryf 1, toneel 4: Survé tree uit die donkerte en verskyn weer in die kollig. “Dokters was nalatig, want daar was nie genoeg van hulle om die babas die lewe in te help nie!”

Die nugter gehoor se denke is eenders: Hoe doen dokters dit met deurskynende kinders?

Aha! IP het ‘n antwoord, mense!

Hulle sê die kinders bestaan wel, maar die hospitale op die lys is tien teen een betrokke by mensehandel. Maar… (Dromrol…) Hulle kon dit nie alleen doen nie. Iemand by binnelandse sake het ‘n vinger in hierdie babasteel-pastei!

Survé is weer aan die woord. ‘Ons staatshospitale is die episentrum van mensehandel en babahandel … Ongeveer 50 persent van die babas word vir aanneming gegee, die ander 50 persent word vir muti, kosmetiese chirurgie en stamselle gebruik,” sê Survé.

Survé, maar net ‘n algemene praktisyn volgens rekords, maak rug reguit en tree tot op die punt van die verhoog.

‘Een van die verpleegsters by een van die hospitale hét bewyse van die babas. Sy het foto’s geneem.’

Waar is die foto’s? gil iemand vanuit die gehoor.

Ah, die mensehandelsindikaat het haar foon tot niet gemaak, so sôrrie mense, ons kan dit nie bewys nie. Ook nie by watter hospitaal sy werk nie. Ook nie wie sy is nie.

So die verhoogstuk, wat as ‘n drama begin het, ontaard nou in ‘n speurstorie. Of dalk ‘n komedie, as mens luister na die volgende toneel.

Sithole is ‘n verskoning verskuldig, sê Survé. Vanaf Nando’s.

Iemand boe uit die gehoor.

Ja-nee. Dit word toe eintlik ‘n komedie. Nando’s se advertensies is altyd vermaaklik, en meestal snaaks.

Survé sê ‘n verpleegster by een van die hospitale het ‘n foto van die babas geneem. Die verpleegster het na bewering ‘n foto op haar foon geneem. Die kinderdiewe het na bewering haar foon vernietig.

Nando’s moet om verskoning vra dat hulle praat van die ‘Ekurhuleni 11’ (let wel, nie 10 nie,) wanneer hulle hul nuwe spesiale aanbod van ‘prego en tjips vir slegs R49’ adverteer.

Die kosprys klink vir die gehoor meer aanvaarbaar as ‘n deurskynende tienling.

IP probeer die gehoor se aandag van die kosoffer aflei, en belowe om die kragtige politici wat by hierdie hele kindersteel-operasie betrokke is, voor die bus te gooi. Seker ‘n deurskynende een…

IP speel nou self fliekmakers; iets wat die gehoor laat kopkrap. Almal weet mos dat jy enigiets kan ‘bewys’ met ‘n video. En hulle beplan ‘n reeks! Een is skynbaar nie genoeg nie.

“IP staan vir die waarheid en sal die waarheid publiseer,” below Survé.

Gaan daar subliminale boodskappe in wees om die toeskouers te oortuig dat die deurskynende tienling wel bestaan het?

Wie loop nou op die verhoog? Ongenooid, en glad nie deel van die rolspelers nie.

Piet Rampedi. Die deurskynende kinders se pa.

Iemand probeer hom van die verhoog verwyder, maar hy weier om te loop. Hy wen die stoeiery want hy wil ook iets sê.

Hy vra kop omlaag verskoning vir die hasejag, die opgewondenheid, die vermorsde mense-ure in die soektog na die babas, die miljoen rand wat die einste Iqbal Survé in ‘n rekening vir die babas oor die volgende vier jare sal betaal (wat nou nie meer sal gebeur nie).

In kort: ‘ek is jammer vir die gemors’.

Hy buig en verdwyn agter die gordyne in.

Dit raak stil in die saal.

Niemand sê iets nie.

Die gehoor klap nie hande nie, want hulle weet nie of die vertoning wat die wêreld op die punte van hul stoele gehad het, wel klaar is nie.

Net tyd sal leer.

Leave a Reply

error: Content is protected !!