Die raaisel om die mitologiese Tembisa-tienling is steeds besig om te verdiep.
In Junie vanjaar het Pretoria News se redakteur, Piet Rampedi, die storie gepubliseer wat wêreldwyd opslae gemaak het. Daarna was daar egter talle vrae oor die bestaan van die tienling.
Independent Media, eienaar van die Pretoria News, het gister weer hulle gediskrediteerde nuusberigte verdedig.
Iqbal Survé, voorsitter van Independent Media, het tydens ‘n nuuskonferensie gesê hulle het ‘n onafhanklike ondersoek van stapel gestuur om die waarheid te ontbloot.
Volgens hom het die “tienling” se ma, Gosiame Sithole, sowat 40 besoeke by verskeie hospitale in Gauteng afgelê, onder meer by die Steve Biko-hospitaal, Sunninghill-hospitaal, Carstenhof-hospitaal en Noordwyk-hospitaal.
Twee van die tien babas is glo dood gebore. Hy het daarop gesinspeel dat kinderhandel agter die “verdwyning” van die babas kan sit.
‘n Verloskundige en ginekoloog, dr. Mpho Pooe, wat Sithole ondersoek het, het gesê die ma het onlangs ‘n keisersnee ondergaan om die babas te hê.
Die regering ontken sedert Junie dat daar enige rekords oor die geboorte van die babas bestaan.
Lenmed-hospitaal, glo een van die hospitale waarheen Sithole en die “tienling” verskuif is, sê die hele storie is bog. “Lenmed herhaal dat me Gosiame Sithole nie in Junie vanjaar geboorte gegee het aan ‘n tienling by enige van sy fasiliteite nie,” het hulle in ‘n verklaring gesê.
Netcare het bevestig dat geen pasiënt met ‘n meervoudige swangerskap van agt of meer fetusse ooit by enige van sy hospitale opgeneem is nie, insluitende Netcare Sunninghill Hospitaal.
“Benewens die dubbelkontrolering van hospitaalrekords, het die bestuur met al die onafhanklike ginekoloë en verloskundiges wat by die fasiliteit praktiseer geverifieër dat nie een van hul praktyke ‘n pasiënt geraadpleeg het of ‘n skandering gedoen het wat ‘n meervoudige swangerskap van agt of meer fetusse toon nie,” sê Jacques du Plessis, besturende direkteur van Netcare se Hospitaalafdeling.
Lees ook SONJA BROWN se gedagtes rondom die ongelooflike drama: Onsigbare babas op ‘n deurskynende verhoog – Die Waarheid
Lees ook: Babas verdwyn: Dis g’n so vreemd – Die Waarheid