Skip to main content

Berig deur SONJA BROWN, foto’s deur DOREEN VERMAAK

Plastic City, Brakpan, is die tuiste van hordes Suid-Afrikaanse burgers asook wettige en onwettige uitlanders.

Wat eens ‘n lekkerkuier-boskroeg in die middel van ‘n plaat bome was, is nou net een groot gemors. Plastiek, blikke, bottels en vrot klere is oral gestrooi en bruikbare weggegooide goed word hoopvol langs die ryvlak uitgestal in die hoop dat verbygaande motorist ietsie sal koop. Dit skep ‘n bitter hartseer prentjie.

Sedert die eerste sinkhuisie van onwettige zama-zamas in die digte boomplantasie ontstaan het, het buur-huise soos paddastoele verrys. Hordes werkloses stroom daagliks oor die straat om die Weltevreden-stortingsterrein in Main Reef Straat, Gold Mine Areas, te betree in die soeke na herwinbare materiaal.

Die gevolg was dat al die Brakpan inwoners se ‘gemors’ terug oor die straat gekarwei word om gesorteer en verkoop te word.

Die voormalige myngrond-area lê in ‘n laagte wat klam bly, en die gevolg is dat die area modderrig is al is dit nie reënseisoen nie.

Miriam, ‘n Zimbabwe boorling het aan Die Waarheid vertel dat sy en haar kinders geen ander heenkome het nie. Hulle bly skaars aan die lewe deur elke dag, sodra dit lig genoeg is, herwinbare materiaal te sorteer wat haar buurman van oorkant die straat aankarwei.

“Ons werk in die koue, in die reën, in die modder, in die swart rook wanneer hulle die plastiek van die kabels afbrand. Ons werk hard vir bietjie geld. Ons kan wel trek na die area langs die karplek (The Rock Raceway), maar daar moet ons betaal vir ons blyplek. Moet ons eet, of moet ons blyplek betaal? Sê jy my wat jy sou kies,” sug Miriam terwyl sy iets in Shona vir haar een kind gil. “En ons kry heel tyd koud, en bly siek, want die grond bly nat. In die winter kry ons baie koud, en boulas is gevaarlik. Mens kan doodgaan van daai rook.”

Dit is opmerklik hoe net een politieke vryer se plakkate aan die pale in hierdie gops-blyplek pryk. Cyril se gesig is daar, so ook Annette Pienaar s’n. Hul stil oë kyk verby die gemors wat onder hul kenne aan die gang is.

Die pad na Anzac, Brakpan is gesluit as gevolg van sinkgate wat in die pad val. Nou moet motoriste deur dongas én deur Plastic City ry om by hul huise, vriende of besighede uit te kom. Main Reef straat gaan binnekort heeltemal onbegaanbaar wees na Benoni se rigting aangesien die teerpad reeds op ‘n paar plekke begin insink as gevolg van die myngrond, water wat nooit wegsink nie, asook zama zamas wat steed snags met plofstof skiet in die hoop om ‘n bietjie goudstof te bekom. Die stuk pad vanaf die stortingsterrein is reeds vir donkiejare toe omdat dit pad daar ‘n groot gat ingeval het. As hierdie deel tussen Benoni en die vullisterrein ook toegemaak word, sal Anzac inwoners ‘n hengs ompad moet ry om by hul wonings te kom.

Inwoners wat in netjiese eiendomme om die plakkerskamp en in die onmiddelike area woon, asem daagliks walms in wat deur die brandende gemors reg buite hul mure veroorsaak word. Hulle kan nie spog met mooi tuine op hul sypaadjies nie, want dit lê vol verrotte items, wat weegooi babadoeks insluit.

Die Waarheid het by Brandon Pretorius, die DA-raadslid vir Wyk 97 in Brakpan, aangeklop met ‘n paar vrae. Hy het nie een van die vrae wat aan hom gestel is beantwoord nie, maar wou net weet waar bewyse van bewerings is dat inwoners van plan is om ‘n regsgeding teen die DA aanhangig te maak omdat dit hulle (die DA) was wat ingetree het toe die stadsraad die mense van Plastic City wou verskuif na ‘n ander plek.

Hy wou niks rep oor die gemors waarin mense wat daar in daardie area woon moet vaskyk, die gesondheidsrisiko’s vir Anzac se mense én die plakkers, die inbrake en moorde wat om Plastic City plaasvind, die versekeringsmaatskappye wat heel tyd moet opdok vir verskeie eise, die feit dat ‘n inwoner van die plakkerskamp anoniem bevestog het dat hulle geen ander uitweg het as om te steel as hulle wil eet nie, die grond wat nou oral in en om die plakkerskamp insak nie en water wat nie meer dreineer in en om die plakkerskamp nie en in damme langs die pad lê.

Pretorius het wel per ‘n latere boodskap laat weet dat die DA mediakantore het wat hieromtrent sal kommunikeer. Ek wag angstig op dié skrywe.

Die Waarheid het ook verneem dat die regering verkies om die gemors op Anzac inwoners se ‘stoep’ te hê aangesien kinders uit die plakkerskamp Anzac Primary skool ‘voer’ met kinders. As hierdie plakkerskamp verskuif word, sal die onderwysers moontlik na ander skole verplaas moet word, of werkloos wees.

 

 

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!