Skip to main content

Daar is ‘n nuwe misdaadtendens wat deur ‘n kundige oog met verskeie onlangse politieke moorde en aanvalle verbind kan word. Daar is besighede wat oop en bloot van nuwe/ou wyksraadslede verwag om vir hulle die deur oop te maak na regeringskontrakte. Dit geskied op verskeie maniere. Hulle sluit óf doelbewus by ‘n plaaslike tak van ‘n regerende politieke party aan of gebruik blootweg dreigemente of omkopery om wyksraadslede in hulle sakke te kry. In sommige gevalle is wyksraadslede self lede van kriminele netwerke of word deur hulle in die ‘stoel’ geplaas tot die voordeel van misdaadsindikaat. Die wyksraadslede wat nie in hierdie spoor wil loop nie, eindig beseer of selfs dood op.

Die Stad Tshwane het drie sulke wyksraadslede in net oor drie jaar afgestaan aan die dood as gevolg van misdaadsindikate. Tshepo Motaung se moord op 24 September in Mabopane is direk gekoppel aan die party se munisipale kandidaat-keuringsproses.

Volgens binnekring-inligting moes kandidate saamstem dat hulle bereid sal wees om 30% van die regering se plaaslike konstruksiekontrakte aan sekere maatskappye toeken. Raadslede was al vermoor as hulle byvoorbeeld ‘onbevoegde’ kontrakteurs afgedank het.

Die hoof-uitvoerende beampte van die SAFCEC, Webster Mfebe, het reeds in 2019 en 2020 gevra vir regering-ingryping op hoë vlak, en het versoeke aan Tito Mboweni, die voormalige minister van finansies, asook president Cyril Ramaphosa gerig. Sy skrywe lys voorbeelde van reuse konstruksieprojekte wat in die wiele gery is deur sakeforums wat ‘n ‘fooi’ van 30% van ‘n projekwaarde geëis het. Die polisie doen niks om die wettige ‘eienaars’ van die kontrakte te beskerm nie, maar daar was gevalle waar interdikte bekom moes word om kontrakte te kon voltrek.

Die algemene mening is dat die verband tussen politieke en kriminele netwerke erken moet word as ‘n nasionale veiligheidsbedreiging aangesien die afpersery klein, wettige ondernemings wat andersins as subkontrakteurs kon werk, en werk in lokale gebiede kon skep, se voortbestaan in die wiele ry. Dit lei ook tot verhoogde kostes vir infrastruktuurprojekte wat dan weer ekonomiese ontwikkeling en dienslewering ondermyn

As Cyril werklik by sy stelling, dat ‘Sinvolle infrastruktuur [investering] die potensiaal sal hê om die ekonomie te versterk, wat die land ‘n stap nader sal bring aan die bereiking van die [Nasionale Ontwikkelingsplan] se verbintenis vir die ekonomie om 5.5 % ekonomiese groei op ‘n jaargrondslag te bereik, slegs ‘n 6% werkloosheidskoers te hê en 30% bruto vaste kapitaalvorming aan BBP,’ sal die afpersery moet stop.

Daar is nog net klein vordering gemaak sedert die konstruksiebedryf die land se polisiekommissaris in 2020 genader het om oplossings vir hierdie geweldige probleem te vind. Daar is ‘n gesamentlike nasionale loodskomitee gestig, multidissiplinêre taakspanne is in sekere provinsies saamgestel, en die Nasionale Vervolgingsgesag het ingestem om gewelddadige afpersing ingevolge die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad te vervolg.

Dit werk klaarbliklik nie na verwagting nie, en die misdadigers word duidelik nie hierdeur afgeskrik nie. In vergeleke met die miljarde rande wat tans vir die bedryf verlore gaan, en werksgeleenthede wat ontneem word van talle arm gemeenskappe is daar ‘n dringende nood dat hierdie saak meer indringend ondersoek moet word.

Navorsing waarop hierdie berig berus, was befonds deur die Ambassade van Finland en die Hanns Seidel-stigting.

Leave a Reply

error: Content is protected !!