Skip to main content

 

Die Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Nkosazana Dlamini Zuma, het vier mense, prof Nico Adam Botha (Voorsitter), mnr Douglas Langley Bennett (ondervoorsitter), dr (prof afgetree) Edna Lorraine van Harte en me Nokubonga Nokwanda Mazibuko-Ngidi aangestel om in die Kommissie oor Khoi-San-aangeleenthede te dien. Die Kommissie is gestig ingevolge die Wet op Tradisionele en Khoi-San Leierskap, 2019 (Wet 3 van 2019) (TKLA).

Die ampstermyn van die Kommissie het op 1 September 2021 begin en sal op 31 Augustus 2026 eindig. Hierdie termyn kan deur die Minister verleng word.

Ingevolge die TKLA is die Kommissie getaak om alle eerste keer aansoeke vir die erkenning van Khoi-San gemeenskappe en leiers te ontvang, die aansoeke wat ontvang is te ondersoek en aanbevelings aan die Minister te maak oor die moontlike erkenning van Khoi-San gemeenskappe en leiers. Die datum vanaf wanneer Khoi-San-gemeenskappe en-leiers aansoeke by die Kommissie mag indien, sal in die Staatskoerant gepubliseer word. Dit is belangrik om daarop te let dat geen aansoeke deur die Kommissie ontvang kan word totdat so ‘n datum gepubliseer is nie.

Die Kommissie ontwikkel tans prosesse en prosedures wat gevolg moet word tydens navorsing, ondersoeke, openbare verhore en vergaderings. Verder ontwikkel die Kommissie ook die formaat van die aansoekvorm en sal mettertyd die Minister adviseer oor die datum vanaf wanneer aansoeke ingedien kan word.

Die Kommissie het ook begin met die proses om ‘n tolvrye lyn te vestig wat as ‘n belangrike kommunikasiekanaal tussen die Kommissie en Khoi-San gemeenskappe regoor die land sal dien. Hierdie tolvrye lyn sal ‘n voornemende aansoeker in staat stel om toegang te verkry tot waardevolle inligting rakende onder meer die aansoekproses, die kriteria vir erkenning van ‘n senior Khoi-San-leier en gemeenskap, komende bewusmakingsveldtogte en toepaslike tydraamwerke.

Die aansoekvorm en datum vanaf waar aansoeke ingedien kan word, sal gekommunikeer word sodra dit gefinaliseer is.

Leave a Reply