Skip to main content

ISAAC CLOETE

Die afgelope naweek het die NEF tydens ‘n emosie-belaaide loodsing sommer harde kontant ook uitgedeel.

Die nuwe party op die horison is die National Economic Fighters (NEF), wat Saterdag op Port Nolloth hulle loodsing afgesluit het.

Hier het Dawid Markus (president) eers die party se ontstaan en toekomsplanne uitgespel. Daarna het Louis Liebenberg, hoof befondser van die party, ‘n emosionele toespraak gedoen.  Hy het gesê: “Ons kan geen politieke loopbaan aanpak nie sonder die Almagtige God van Hemel en aarde nie. As ons met die  regering wil praat moet ons een boodskap praat. En dit is een van versoening en liefde tussen mense.
Ons moet vandag selfs die ANC liefhê. Of vir Julius Malema, want hulle is mense. Maar die eenheid bestaan net in Jesus Christus.”

Volgens hom is daar geen probleem as mense ryk is nie, want dit is God se seëning. Die probleem is egter as ryk mense alles vir hulself hou. Hy het ook vertel dat oorwinning nie by die stembus lê nie, maar in jou hart. In jou liefde vir jou medemense.

Hy ten slotte vertel dat die NEF vir vryheid van hulle mense, die onderdruktes, veg. En dat die NEF oor Christenskap gaan en nie oor wen of verloor nie.

As ‘n bewys dat hy ernstig was wat hy gepredik  het, het hy verwys na tannie Dina Adonis. Sy is ‘n vrou van Komaggas, wat byna haar hele huis in ‘n brand verloor het. Liebenberg het aangebied om aan haar R10 000 te skenk.

Die geld is in ‘n plaaslike hardeware handelaar op Springbok se rekening inbetaal. Tannie Dina kan nou gerieflik en op haar tyd boumateriaal aanskaf om haar huis mee te herstel.

Tannie Dina het hartroerend gesê: “Ek is baie bly vir die ‘organisasie’ wat nou namens die delwers praat. Daarvoor sê ek dankie. Ek bid vir julle en vra en hoop dat Port Nolloth se delwers julle ook sal ondersteun. Julle het nou ‘n stem wat vir julle kan praat. Die diamante behoort aan die Namakwalandse mense, maar baie delwers gaan onwettig dood.”

Daar was selfs kindertraantjies van blydskap toe van hulle beertjies ontvang het. Die pragtige beertjies (40) was spesiaal en met groot moeite gebrei deur die bejaarde tannie Joey Fourie.

Markus glo dat hulle ‘n goeie en harde veldwerk onder kiesers gedoen het. Alles hang nou van 1 November af as hulle hul kruisies moet gaan trek.

Leave a Reply

error: Content is protected !!