DR BEVERLEY MALAN
Soos in die vorige artikel aangedui is die fokus van hierdie artikel op kuberboeliery. Ons kyk spesifiek na wat dit behels, wat die effek daarvan op u kinders mag wees, hoe u moet optree ingeval u vermoed dat hulle geboelie word, wat u kan doen om u kinders te help om hierdie soort boeliery te hanteer, en hoe u boeliery oor die algemeen kan help stuit. Ons kyk dus eerstens na wat kuberboeliery is, waarom sekere kinders dit doen, en hoe hulle besluit wie om te teiken. Tweedens kyk ons na moontlike gevaartekens dat u kind/ers geboelie word en/of self boelies is en die effek wat boeliery op die geteikende slagoffers kan hê en wat hulle kan doen om te keer dat dit hulle negatief beïnvloed. Derdens, en dis ‘n groot taak, kyk ons na maniere waarop u as ouers ‘n bydrae kan maak tot die vemindering en/of bekamping van boeliery.
Wat presies tel as kuberboeliery?
Eenvoudig gestel verwys kuberboeliery na enige aksie op die Internet wat doelbewus daarop gerig is om iemand anders onophoudelik te terg, verkleineer, intimideer of sleg oor hom/haarself te voel. Kuberaktwiteite wat hierdie effek op ander mag hê sou die volgende kon insluit: dreigende boodskappe aan die geteikende persoon, die verspreiding op sosiale media van ongegronde gerugte, oorspronklike of ‘gedokterde’ foto’s of video’s van die geteikende persoon wat daarop gerig is om hom/haar in die verleentheid te stel. Kuberboelies sou ook geheime wat die persoon met hulle gedeel het aan die groot klok kon hang, hulle slagoffers doelbewus uit ‘n groep of aanlynspeletjie uitsluit sonder om enige redes daarvoor te verskaf en selfs net te sorg dat iets wat die geteikende persoon of sosiale media plaas meer ‘dislikes’ as ‘likes’ kry.
‘n Erger, meer subtiele vorm van kuberboeliery behels dat die boelie onregmatig toegang tot sy/haar geteikende slagoffer se selfoon of sosiale mediarekening verkry ten einde te maak of hy/sy die geteikende persoon is. Hulle plaas dan gemene boodskappe of vals gerugte oor die geteikende persoon se vriende of vriendinne op sosiale media sodat dit lyk asof dit van die geteikende persoon self af kom. Gevolglik sou die slagoffer se vriende en vriendinne wat glo dat dit hy/sy is wat die boodskappe versprei, met hom/haar rusie maak of weier om langer met hom/haar vriende te wees. ‘n Nog gemener weergawe van hierdie tipe boeliery is wanneer die boelie moeite doen om sy/haar teiken se ‘vriend’/’vriendin’ te word, dié se vertroue te wen en dan doelbewus hierdie verrtoue te skend deur alles wat met hulle gedeel is op sosiale media te versprei.
Geteikende slagoffers sal altyd een of ander emosionele skade ly as gevolg van die boeliery. Hulle sou byvoorbeeld kon besluit om heeltemal op te hou om sosiale media te gebruik, ‘n besluit wat uiteindelik tot algehele vereensaming kan lei.
Hoekom is party kinders daaartoe geneig om ander te boelie?
Daar is baie redes waarom party kinders geneig is om ander, hetsy fisies of op die Internet, te boelie. Van hierdie redes sluit in dat hulle dalk self tuis geboelie word, deur ouer broers of susters, of selfs deur hardhandige ouers. Dit kan ook wees dat hulle dalk ‘onsigbaar’ voel omdat hulle nie genoeg aandag van hul ouers of sibbes ontvang nie. Miskien wil niemand, om verskeie redes, met hulle ‘vriende’ wees nie. Deur ander te boelie raak hulle dus van hulle frustrasies of woede oor hulle situasie ontslae en/of hulle slaag daarin om ‘vriende te maak’ met ander kinders wat dalk dieselfde as hulle voel. Dit alleen laat hulle minder afgeskeep, uitgeskuif of alleen voel.
Nog ‘n rede waarom kinders dalk boelies word is dat hulle die verkeerde rolmodelle kies. As hulle self swak of weerloos voel mag hulle dalk opsien na ‘n ouer broer of suster, ‘n ouer of ander familielid, ‘n filmster, sportpresteerder, of politieke figuur wat hulle probleme oplos deur te baklei – fisies of verbaal – en deur diesulke handeling as ‘wenner’ uittree.
‘n Derde rede, en dit is ironies, is dat hulle nie noodwendig iemand wil seermaak nie: hulle is bloot verveeld en/of probeer net ‘snaaks’ wees. As ander mense, – Internet en sosiale media gebruikers in hierdie geval -, op hul grappies, foto’s wat verleentheid veroorsaak, of ongegronde skindery reageer is dit vir eers pret maar uiteindelik mag hulle so verstrengel raak in hierdie tipe gedrag dat hulle nie meer sonder dit kan leef of daarvan kan ontsnap nie al sou hulle wou.
Hoe kies kuberboelies hulle teikens?
Net soos daar baie redes is waaarom kinders boelies word is daar baie redes waarom ander as ideale teikens beskou kan word. Die eerste rede is dikwels omdat die persoon wat as teiken gekies word radikaal van die boelie self verskil in terme van taal, ingesteldhede, vermoëns, grootte/gewig, belangstellings, die manier waarop hulle aantrek, ensovoorts. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die tipiese ‘nerd’ wat in die verlede ‘n boekwurm sou wees maar nou ‘n kuberslaaf is in teenstelling met hul tydgenote wat liefs aan sport, buitelug en/of sosiale aktiwiteite deelneem. Tensy hierdie ‘andersdenkendes’ ‘n baie goeie selfbeeld het, is hulle ideale teikens vir potensiële boelies.
Nog redes sluit in kinders wat uitstaan in ‘n groep omdat hulle akademies en/of tegnie georiënteerd is, met ‘n ander aksent praat, aan ‘n ander godsdienstige groep of ras behoort en, in ‘n skool met hoofsaaklik arm kinders, as ‘ryk’ beskou word omdat hulle hul eie kos of snoepiegeld saambring skool toe. Kinders wat fisies kleiner is as ander, van vroeg af reeds bril dra, hardhorend is of op ander maniere gestremd mag wees, word ook dikwels geteiken. Alhoewel hierdie redes meer van toepassing is op fisiese eerder as Internetboeliery mag die profiel wat kinders van hulself op die Internet skep, dieselfde boodskappe uitdra en dus aandui dat hulle dalk vir boeliery vatbaar is.
Waarna moet jy oplet om te bepaal of jou kind in boeliery betrokke is?
Om dit te bepaal, veral met betrekking to Internetboeliery, is moeilik. Daar is egter ‘n paar algemene riglyne wat kan dien as waarkuwingstekens dat u kind/ers óf geboelie word óf dalk iemand anders boelie. Hierdie waarskuwingstekens kan eie wees aan spesifieke kontekste, situasies en/of volwasse-kind verhoudings. Die algemeenste tekens sluit in dat die kind nie dit wat hy/sy op die Internet of sosiale media doen met sy/haar ouers/onderwysers wil deel nie; dat sy/hy die toestel waaraan sy/hy eens verknog was nou vermy of dat dat hulle dit toe hou, wegsteek of afsit wanneer iemand anders die kamer binnekom; dat hulle nie hulle inligting oor hul wagwoorde, webwerwe of ander ‘toeps’ (toepassings) met hul ouers wil deel nie en/of as hulle persoonlikheid skielik verander – van ‘n lewendige, vrolike kind na een wat passief, teneergedruk of buierig is, en/of haar/homself fisies, sosiaal en emosioneel van ander begin distansieër.
Indien u enige van hierdie tekens raaksien is dit tyd om op te tree. Weereens hang dit af van die konteks, situasie en die verhouding wat u met u kinders het, wat u behoort te doen. Algemene riglyne in die verband sluit in dat u eerstens agter die kap van die byl moet kom deur die ‘volle storie’ (wat, waar, wanneer, hoe en hoekom die boeliesituasie onstaan het) vanuit die perspektief van die boelie sowel as die slagoffer te benader deur:
- Noukeurig te luister na wat albei partye sê, sonder om te oordeel of kant te kies en, indien u dit nodig ag, stemopnames of geskrewe notas van die gesprekke te maak. Moet nie in die strik val om enige van die partye te oordeel voordat u nie na al die redes (nie verskonings nie) geluister het nie.
- Simpatiek/ondersteunend te wees, m.a.w. moenie die indruk skep dat u enige van die betrokke persone afskiet, blameer of veroordeel nie. Dit moet duidelik wees dat dit nie die persoon is wat u afkeur nie maar dit wat gebeur het, wat hulle gedoen het.
- Moontlike oplossings teen mekaar op te weeg deur albei partye te vra hoe hulle dink die situasie ontlont of opgelos kan word sonder dat enige iemand verder seerkry. U sou byvoorbeeld aan die boelie kon vra wat hy/sy kan doen om dinge reg te stel en vir die slagoffer hoe hy/sy hom/haarself teen toekomstige aanslae sou kon beskerm.
- Die boelie-insident/insidente te rapporteer aan diegene in beheer van die webwerf sonder om die kinders se name te verskaf. U sou Microsoft byvoorbeeld op microsoft.com/reportabuse in kennis kon stel van die insident/insidente.
- Beraders of ander kundiges wat vir situasies soos hierdie opgelei is vir raad of leiding te vra oor wat u verder in die verband sou kon doen.
Wat sou u kon doen om te keer dat u kind in die toekoms moontlik weer ‘n slagoffer kon word?
Indien u kind ‘n slagoffer van boeliery was en/of self iemand geboelie het sou u moet bepaal watter van die redes hierbo gegee die oorsaak daarvan kon wees. Om die kind te straf, te belet om digitale tegnologie te gebruik of gedurig dop te hou sal nie help nie. Wat u moet doen is om hulle te help om dit te hanteer en of weerstand teen albei hierdie moontlikhede op te bou. Een manier om dit te doen is vir hulle om enige iemand wat self probeer om hulle op mediaplatforms te boelie eenvoudig te blok.
‘n Ander, minder drastiese maar moontlik meer effektiewe manier is om daadwerklik op die ontwikkeling van hulle emosionele intelligensie te fokus. Hierdie is ‘n tema op sy eie, maar kortliks behels dit dat u kind hom/haarself moet ken, moet weet wat sy/haar sterk en swak punte is, wat vir hulle maklik en moeilik is en hoe hulle op uitdagings en probleme reageer. Een manier om dit te doen is om hulle aan te moedig om hulleself beter te leer ken en waardeer. Hulle sou byvoorbeeld aangemoedig kon word om ‘n verbale of visuele ‘Talentprofiel’ van hulself op te stel – een waarin hulle aandui wat hulle slegte en swak eienskappe is, waarin hulle veral talentvol is en waarmee hulle oor die algemeen sukkel. U kan dan hierdie profiel as basis of verwysingsraamwerk gebruik om aan hulle voor te stel waaraan en hoe hulle aan swak areas kon werk en hoe hulle hul sterk eienskappe daarvoor kon gebruik.
Nog ‘n manier om u kinders se emosionele intelligensie te ontwikkel is om hulle te leer hoe belangrik ‘perspektief’ is in die interpretasie van gegewens, dat die oogpunt waaruit mens na iets kyk dikwels mens se interpretasie bepaal. U behoort hulle dus te begelei tot die besef dat die ‘likes’ of nie van mense met ‘n ander perspektief dalk meer oor die respondent sê as oor die persoon wat iets – idees, menings, prente, liedjies, ensovoorts – op die Net geplaas het. As hulle besef dat nie almal van dieselfde dinge hou nie, dat respondente nie regtig die persoon wat iets geplaas het ken of weet watter tipe persoon hy/sy is nie, moet hulle nie die aantal ‘likes’ of ‘dislikes’ persoonlik opneem nie. Dit is bloot iemand anders se perspektief op die inhoud, nie van die persoon nie. Hoe meer u kinders hierdie benadering gebruik hoe weerbaarder sal hulle wees teen wat hulle as aanvalle van ander ervaar, met ander woorde, hoe meer emosioneel intelligent sal hulle word.
Wat sou u kon doen om boeliery oor die algemeen te probeer temper?
Sou u graag eendag wou voel dat u ‘n verskil in iemand anders se lewe gemaak het? Indien nie, hou gerus op met lees. Indien wel, is die tempering van boeliery, wat uiteindelik in geweldsmisdaad sou kon verander, ‘n gulde geleentheid om dit te doen.
Hoe doen mens dit?
Deur proaktief betrokke te raak by wat dit ookal is wat u wil verander of verbeter. In hierdie geval is dit tempering van boeliery. U sal self aan vele moontlikhede kan dink om dit te doen. U sal ook weet watter strategieë die beste in u gemeenskap – hetsy dit ‘n fisiese of ‘n virtuele gemeenskap is – sal werk. Hier is egter ‘n paar voorstelle wat u sou kon oorweeg indien u wou.
- Begin ‘n Boeliebewusmakingsveldtog
U sou byvoorbeeld met ouers van ander tuisskoolleerders in gesprek kon tree oor kuberboeliery, ‘n groep- of gemeenskaps-werkswinkel oor die probleem organiseer of aanbied, ‘n artikel oor kuber-boeliery vir u plaaslike koerant skryf, praatjies by skole kon aanbied of organiseer, plakkate kon maak, op sosiale media of webwerwe plaas of, met die toestemming van perseeleienaars of die munisipaliteit op verskillende plekke waar die gemeenskap dikwels vergader. In al hierdie gevalle moet die klem val op die ontwikkeling van begrip vir die verskynsel, maniere waarop kinders/ander mense teen boeliery beskerm kon word en laastens, maar nie minstens nie, hoe boeliery van enige aard voorkom/bekamp kon word.
- Organiseer ‘n Deernis/Empatie Veldtog
Mens kan net deernis met iemand anders hê as mens weet wat sy/haar omstandighede is. As deel van ‘n gemeenskap sou u byvoorbeeld deerniswerksinkels in u gemeenskap, kerk of plaaslike skole van stapel kon stuur (gaan na aka.ms/EffectivePrograms vir meer inligting) om by te dra tot die groei van ‘n (fisiese en/of Internet) omgeegemeenskap. U sou ook almal met wie u op sosiale media of die Internet gesels aanmoedig om elke dag een of ander omgeedaad vir iemand anders te doen (sonder om iets in ruil daarvoor terug te verwag). Miskien, as mense regtig vir mekaar begin omgee is daar hoop dat boeliery en ander vorme van geweld dalk net minder kan word; iets wat tot ons almal se voordeel sal wees.
Ons hoop hierdie artikel het u nie net stof tot denke gegee nie maar u ook aangemoedig om, op u eie unieke manier, ‘n bydrae tot die bekamping van kuberboeliery te maak.