Skip to main content

Jan Brandt – Bittereinder Soldaat

Skrywer, kunstenaar, bittereinder-boer, digter, sanger.

Dit net van die enkele persoonsname wat gebruik kan word om die nuwe toetreder tot die Afrikaanse musiekbedryf, Jan Brandt, te beskryf.

Jan se nuutste enkelsnit Bittereinder Soldaat wat ook die eerste snit op sy gelyknamige album is, is pas uitgereik, en hiermee dra hy ook ’n kragtige boodskap oor: dat hy nog die Suid-Afrikaanse musiekbedryf op sy kop gaan keer.

Dié liedjie het ’n rockgedrewe-aanslag en Jan se donker bas – wat nogal sterk herinner aan Leonard Cohen se praat-sing-mat-deurgetrapte-stem – is ’n perfekte pasmaat vir die lirieke.

Jan het die liedjie self neergepen en beskou dit “as ’n liedjie wat enersyds inspireer en andersyds motiveer. Dit verwys na die uidagtings wat ons elke dag in die gesig staar en moet oorkom. Die lewe is soos ’n uitdagingsresies – ons moet eers die struikelblokke oorkom voordat ons die wenstreep kan haal.”

Met die eerste luisterslag kan die luisteraar dalk glo dat die liedjie oor ’n oorlog handel, maar dit handel allesbehalwe oor ’n fisieke oorlog, eerder ’n psigilogiese oorlog wat ons teen onsself voer.

Dié lirieke word ’n metafoor vir Suid-Afrikaners se daaglikse stryd om te oorleef. Misdaad, korrupsie, armoede, werkloosheid.

Maar Jan verwoord die stryd op ’n positiewe manier in die koorgedeelte… “staan op, tek op jou kop, hou voort, jy kan fluister, en die regte mense sal hoor, elke doringboom was eers net saad, glo in jouself, droom desperaat. Bittereinder Soldaat.”

“Ek glo dat elke mens self verantwoordelik is vir die lewe se wenresep. Dit is wanneer ons onsself kan beheer (moenie net onnodig die appels swaai of kwaad word nie), ons die situasies kan hanteer,” vertel hy.

’n Motto waarin hy ook glo, want sedert hy besluit het om weer op sy familie se suikerplaas in die Laeveld te boer, het hy selfs verskeie uitdagings in die gesig gestaar: arbeidsonmin, vrese vir plaasaanvalle, peste, té veel reën, té min reën.

Maar hy het die uitdagings oorkom en tussen die suikerrietplantasies en subtropiese plantegroei sy woorde gevind – ’n kreatiewe taalvrugteslaai wat ook sterk in sy lirieke figurer.

Jan is nie ’n groentjie in die plaaslike musiekbedryf nie. Hy was vanaf 2015 tot 2018 ’n lid van die akoestiese musiekgroep Haasenhoff wat veral die Pretorianers regop laat sit het.

Hy beskryf homself as ’n diepdenkende, kaalvoet, plat-op-die-aarde skrywer wat ’n sterk band met moedernatuur het.

Jan se Bittereinder Soldaat is ’n wonderlike nuwe toevoeging tot die Afrikaanse repertoire en ons hoop dat daar binnekort meer van sy enkelsnitte op radisotasies gespeel gaan word.

Leave a Reply

error: Content is protected !!