Die foto wys hoe gewapende rowers Sondag middag net voor 15:00 by die Menlyn Mall in Pretoria by die ingang die veiligheidsverspering omseil het.
Die polisie in Brooklyn ondersoek ‘n saak van roof en poging tot moord.
Drie verdagtes, twee mans en ‘n vrou, het die Arthur Kaplan-juwelierswinkel binnegegaan en juweliersware geëis. Een van die werknemers het daarin geslaag om die paniekknoppie te druk en die verdagtes het weggekom met net die juweliersware wat in die vertoonkaste was. Die waarde kan nog nie bepaal word nie.
Op pad uit het die rowers op ‘n veiligheidsbeampte begin skiet. ‘n Inkopieganger is ook in die skietvoorval gewond. Beide slagoffers is na die hospitaal geneem vir mediese behandeling. Die sekerheidswag is in die maag geskiet en die lid van die publiek het skietwonde aan sy bene opgedoen.
In hierdie stadium is daar nog geen arrestasie gemaak nie. Die polisie doen ‘n beroep op almal wat inligting oor die voorval het, om die SAPD se misdaadstopnommer 08600 10111 te kontak, anders kan anonieme wenke ingedien word via die My SAPD-app wat op enige slimfoon afgelaai kan word.
Alle inligting wat ontvang word, word met die grootste vertroulikheid hanteer.