Skip to main content

ISAAC CLOETE

Die National Economic Fighters het nie vergeet dat hulle gemeenskappe ook hulp nodig het nie.

Dit is waarom hulle die afgelope paar weke aan verskeie arm gemeenskappe in Namakwaland duisende rande se items uitgedeel het.

Dit sluit in besoeke aan skole in die Kamiesberg munisipale gebied.
Dorpe soos Kamieskroon, Kharkams, Garies en Leliefontein is die afgelope week besoek. By Garies- en Kharkams-hoërskole het die sowat 100 matrikulante uit die bloute geskenkpakkies ontvang.

Die meisies se pakkies het onder andere ‘n waslappie, sanitêre doekies en saniteringsmiddels ingesluit. Die seuns s’n het bestaan uit ‘n waslappie, waterbottel en het ook saniteringsmiddels ingesluit.

Die sowat 140 laerskoolleerders van Kamieskroon was bederf met pennestelletjies. Hierdie welkome geskenkpakkies was ‘n hele paar duisend rand werd volgens die organiseerders van die skenkings.

Die JJ Lambert laerskool op Garies het vertel dat die gr R- &7-leerders baie in hul skik was met die pennestelletjies. Blykbaar was dit ook die eerste keer dat instansies of partye sulke geskenke aan die leerders verskaf het.

Intussen is ander twee dorpies, soos Komaggas en Kleinsee, in die Nama Khoi-gebied, ook besoek om die wykskandidaat, Josef Cloete, bekend te stel. Hier was geskenke en kos ook aan behoeftige mense uitgedeel.

Op Saterdag het die NEF hul derde en laaste loodsing in Port Nolloth, die hoofdorp van die Richtersveld, gehou. Die vorige twee was op Hondeklipbaai en Sanddrift gehou.

Volgens Helena Schulenburg, organiseerder van die skoolbesoeke, gaan dit sommer ‘n groot bash wees waar musiek, kos, drinkgoed en kindervermaak die hoofdisse gaan wees.

Die loodsing word langs die strand naby die dorp se sakekern gehou en daar gaan selfs vlugbal gespeel word. Vir die kleinspan sal daar ‘n groot springkasteel wees. Om alles te kroon sal ‘n gesigverf-sessie ook plaasvind. Alles mahala.

Die span beoog om voor volgende week, voor die verkiesing, die KhaiMa-gebied te besoek. Hier gaan hulle by dorpies soos Aggeneys, Pofadder en Pella aandoen. Met die hulp van drie NEF-wykskandidate, Kevin Waterboer, Jeff  Thomas en Mildred Freeman, gaan dieselfde seëninge  aan die inwoners hier uitgedeel word.

‘n Inwoner van Garies het anoniem saamgestem dat ander politieke partye nog nie dit gedoen het wat die NEF onlangs hier vir die inwoners kom wys het nie.

Die span van FDG het selfs ‘n draai gaan maak by Nuttaboy, naby Komaggas, waar die onlangse mynramp gebeur het. Hier het hulle die geaffekteerde families van vermiste delwers gaan ondersteun en aan hulle kos verskaf.

Dawid Markus, leier van die NEF, was tevrede met dit wat die party sover in die gemeenskappe terugggeploeg het. Hy glo dit sal op 1 November goeie vrugte afwerp by die stembus.

Leave a Reply