Sedert die departement van justisie (DoJ) se IT-dienste in September deur kuberkrakers lamgelê is, is daar net chaos in landdroshowe en meesterkantore regoor Suid-Afrika.
Alhoewel daar sprake van ‘vordering’ was in die herstel van die rekenaargebasseerde inligting, lê daar nog baie probleme voor. Howe kan steeds nie behoorlik funskioneer nie, en die staatsadvokate het steeds nie toegang tot enige e-posse nie, en hul word genoop om Gmail te gebruik om te kommunikeer.
Die howe kan ook nie transkribeer of verhore opneem nie. Dit lei tot die uitstel van baie sake.
Hofbevele en vonnise word per hand geskryf aangesien daar geen toegang tot skootrekenaars is nie. Vonnise wat in die guns van die beskuldigdes bevind is, kan nie geïmplementeer word nie want die amptelike stelsel wat howe gebruik werk ook steeds nie.
Alhoewel die Master’s Integrated Case Management System (ICMS) wat deur howe gebruik word af en toe werk, maak dit geen duik in die sake wat op hofrolle verskyn nie.
Die uitvoerende hoof van Fisa, Louis van Vuren, het gesê dat die ‘publiek bewus gemaak moet word van verdere vertragings wat verwag kan word in die alreeds lang prosesse.
Dit sluit in, maar is nie beperk nie tot:
die goedkeuring van likwidasie- en distribusierekeninge in bestorwe boedels
die verskaffing van gesagsbriewe
die verskaffing van briewe aan eksekuteurs
Trusts is ook erg geraak,” het van Vuren gesê.
“Nuwe of vervangende trustees word nie gemagtig nie, wat beteken dat die beleggingsportefeuljes van trusts nie herbalanseer kan word nie en dat dit negatief beïnvloed kan word deur markbewegings.
“Boonop kan testamentêre trusts nie geregistreer word nie, wat minderjarige kinders sonder onderhoud laat, terwyl nuwe liefdadigheidstrusts ook nie geregistreer kan word nie.”
Hy het bygevoeg dat hierdie kwessies ‘n beduidende impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie en samelewing sal hê.
MyBroadband het die departement van justisie gekontak vir kommentaar, maar dit het nie gereageer teen die tyd van publikasie nie.
Doktor Mashabane, die Advokaat-direkteur-generaal van die departement van justisie, het gesê dat minstens 1200 lêers met mense se persoonlik inligting moontlik in gedrang is.
Die inligting in hierdie lêers bevat:
Name, adresse, identiteitsnommers en telefoonnommers van inligtingsbeamptes
Name, woonadresse, identiteitsnommers, telefoonnommers, kwalifikasies, bankrekeninge en salarisse van werknemers
Name van departemente van justisie en bankbesonderhede van die diensverskaffers
Volgens inligting het die kuberkrakers ‘n losprys van 50 bitcoin geëis. Die waarde daarvan is ongeveer R47,5 miljoen. Die departement ontken dit.