‘n Egpaar in hul dertigs het onder die hande van agt boewe deurgeloop nadat hul verlede Donderdag in hul huis aangeval en beroof is. Die vrou is erg aangerand tydens die aanval.
Die Polisiewoordvoerder konstabel Munyadziwa Ramovha het gesê agt verdagtes het Donderdag omstreeks 18:00 toegang tot ‘n erf in Zusterstroom verkry.
Die man is buite sy huis oorval en met die woorde: ‘shut the f*** up, I will shoot you’, is hy die huis ingedwing nadat ander verdagtes by hulle aangesluit het.
‘n Vrou, die man se veloofde, het probeer om die veiligheidshek wat na die slaapkamer lei, toe te sluit, maar sy is deur drie verdagtes oorval.
‘Die vrou is erg in haar gesig aangerand deur die verdagtes en het ‘n 2cm sny aan haar regteroog opgedoen.
‘Hulle is vasgemaak met elektriese kabels, gordels en maskeerband voordat kussingslope oor hul gesigte getrek is. Ramovha het gesê die verdagtes het daarna ‘aggressief’ na ‘n kluis begin soek.
Die rowers het weggekom met ‘n Macintosh-skootrekenaar, $ 1, 000 dollar in kontant, gaspistool, windbuks, verloofring, ander juweliersware en ‘n Toyota LDV’ het Ramovha gesê.
“Die gesteelde eiendom beloop ongeveer R500 000.”
Die verdagtes het van die toneel gevlug, maar die motor is verlate op die R25-pad gevind.
“Daar is nog geen arrestasies gemaak nie.”
Ramovha het gesê enigiemand met inligting kan die Bronkhorstspruit-polisie by 013 932 9222 kontak.