Nadat ‘n 37-jarige man deur die Gauteng Verkeerspolisie se hoëspoed-eenheid gearresteer is vir roekelose en nalatige bestuur tydens ‘n operasie in Oktober langs die R21 Benoni-afrit, het Sello Maremane, die woordvoerder van die verkeerspolisie in Gauteng, gepleit dat padverbruikers die reëls en regulasies moet nakom.
Die spoedvraat is in die Benoni-polisiekantoor aangehou en aangekla vir roekelose en nalatige bestuur met ‘n alternatiewe aanklag van bestuur bo die voorgeskrewe spoedgrens nadat hy ‘n gemiddelde spoed van 182km/h in ‘n 120km/h-sone gery het.
‘Terwyl ons voortgaan om die Vervoermaand te vier, is dit belangrik dat padverbruikers aanhou om padveiligheid te beoefen. Die verkeerspolisie, deur middel van sy padveiligheidsonderrigeenheid, sal voortgaan om veiligheidsonderrig op paaie te verskerp om die lewens van padgebruikers te red,” het Maremane gesê.
“Die Gautengse verkeerspolisie sal sonder vrees of bevooroordeling voortgaan om die oppergesag van die reg af te dwing. Die veiligheid van Gautengse burgers het ‘n kritieke punt bereik.”