Inwoners van Mookgophong in die Limpopo provinsie word die afgelope tyd geteister deur mense wat honde steel en hulle dan vermoedelik vir dwelmgeld verkwansel.
Die afgelope paar maande was daar gereeld boodskappe op sosiale mediagroepe waar inwoners vertel van diere wat helder oordag uit erwe weggeraak het.
Volgens Kobus van Loggerenberg, voorsitter van AfriForum Buurtwag in die dorp, is dit die vierde geval waar klein hondjies vermoedelik gesteel is.
In een geval is die diewe aangekeer, maar die eienaars wou nie ’n klag by die polisie lê nie.
Hy het inwoners versoek om hom dadelik te kontak indien hulle enige verdagtes met honde in die strate opmerk. Die verdagtes is moontlik ook betrokke by onwettige hondegevegte in die gebied en kan as gevaarlik beskryf word.
Kontak Van Loggerenberg by tel. 081 562 8702 indien u enige iets verdag opmerk.