Die Afrikanergemeenskap in Orania het pas sy eie jaarlikse sensus vir die vyfde jaar in ‘n ry gepubliseer. Dié sensus dui op ‘n rekordpersentasie in bevolkingsgroei, groei in nuwe besighede, sterk groei in nuwe permanente werksgeleenthede, ‘n stewige styging in gemiddelde salarisse en ‘n toename in sakevertroue.
Volgens die sensus, wat deur die Orania Dorpsraad se Beplanning en Grondgebruik-afdeling bekend gestel is, het Orania se bevolking met ‘n ongelooflike 16.5% toegeneem. Samelopend daarmee het huishoudings met 14.8% toegeneem, wat stabiele gesinsvestiging weerspieël.
Aan die een kant lok dit verdere bevolkingsgroei en aan die ander kant plaas dit die kollig op Orania se primêre, sekondêre en tersiêre onderwys en opleidingsinstellings. Oor die afgelope vyf jaar het die aantal skoliere en studente in Orania elke jaar met ‘n gemiddeld van 18,1% toegeneem.
Volgens Hanri Maritz, burgemeester van Orania, bly dit Orania se doel om ‘n werkbare alternatief vir Afrikaners te skep.