Maak seker dat Pollie se hok nie te klein is nie, dat jou papegaai genoeg geskikte speelgoed het om mee te speel en dat hy/sy genoeg kos en water het.
Onthou Pollie benodig `n dieet van sowat 70% nuggets papegaaivoedsel, aangevul met baie groente en af en toe ‘n vrug. Hier volg ‘n paar interessante feite as dit by Pollie se dieët kom.
In die natuur vreet papegaaie ‘n groot verskeidenheid van kosse, onder andere jong blare, bloeisels, vrugte, insekte en soms saad. ‘n Dieët wat hoofsaaklik uit sonneblomsade bestaan skiet tekort met meer as twaalf voedingstowwe, naamlik; kalsium, Vitamine D, Vitamiene A, Vitamiene K, sekere aminosure (lisien en metionien), B Vitamiene (veral B12), mangaan, sink, yster, jodium, en selenium. Dit is ook baie hoog in vet. ‘n Sonneblomdieët kan lei tot oorgewig, swak veerkwaliteit, epilepsie en ‘n verhoogde vatbaarheid vir siektes.
Neute en sade moenie meer as 20% van die dieët uitmaak nie. Daar is ‘n aantal goedgebalanseerde diëte beskikbaar in korrel- en papvorm. Voorbeelde sluit in Avi-Plus, Tru-Bird en Kaytee. As u papegaai hierdie kos sal eet, kan u gerus wees dat die voël ‘n gebalanseerde dieët inkry. Papegaaie kan van ons mense se tafelkos ook eet, maar onthou dat ‘n halwe grenadella vir ‘n papegaai die ekwivalent is van ‘n mens wat ‘n halwe vrugtebak vol grenadellas eet. Gebruik voedsel wat laag aan vet is aangesien papegaaie ook met cholesterol kan sukkel. Beperk sout in die dieët. Voëls kan stysels soos pasta, gekookte rys, aartappels, brood en graankosse eet. Veral heelgraanprodukte moet gebruik word.
Ekstra kalsium kan in die vorm van eierdoppe van gekookte eiers (nie rou eiers nie) verskaf word. Inkvis been (“Cuttlefish bone”), mineraalblokke en oesterdoppe kan ook gebruik word asook ‘n kommersiële kalsiumbyvoegsel. Dit is veral belangrik tydens broeityd en groei. Dit lyk of African Greys meer kalsium benodig as ander spesies. Papegaaie benodig nie gruis in hul dieët nie; oormatige gruisklippies kan selfs bydra tot obstruksie van die voormaag.
Die volgende kosse MOET NIE gevoer word nie:
Avokado
Pietersielie (giftig vir kanaries)
Sjokolade
Stimulante soos koffie en kaffeïnbevattende koeldrank soos koladrankies
Alkohol
Nikotien
Blaarslaai
Handige wenke: Indien Pollie lekkerbekkig is en verslaaf is aan sonneblomsaad, kan die oorskakelingsproses ‘n lang en traumatiese proses wees, gooi net die bodem vol, anders mors hulle baie. Hulle hou die meeste van appels, wortels, gekookte botterneut en boontjies. Hou vir ten minste ses tot agt weke vol met die nuwe voedselroetiene. Die gesondheidsvoordele wat dit vir Pollie inhou is egter baie belangrik en sal jou papegaai vir die res van sy of haar lewe bevoordeel. Sterkte!