Skip to main content

Mense kom dikwels voor ʼn moeilike situasie te staan wanneer daar ʼn besluit oor ʼn geliefde geneem moet word in omstandighede waarin hulle nie self ingeligte besluite kan neem of toestemming kan gee ten opsigte van mediese behandeling nie.

Daar moet dalk ʼn besluit geneem word oor of die persoon met lewensondersteunende masjiene aan die lewe gehou moet word en of die masjiene afgeskakel moet word. Dit kan lei tot blywende vrae en skuldgevoelens.

“Om ʼn geliefde die emosionele trauma te spaar, kan jy ʼn lewende testament laat opstel en behoorlik onderteken,” sê Juan Buys, fidusiêre spesialis by PPS Wealth Advisory. “Dit is ʼn skriftelike instruksie wat ʼn persoon se wense oor toekomstige mediese behandeling uiteensit. Byvoorbeeld, as ʼn persoon in ʼn koma is en daar geen redelike kans op herstel is nie, kan ʼn lewende testament verklaar of die pasiënt deur kunsmatige lewensondersteuning aan die lewe gehou wil word al dan nie.”

Volgens Buys kan ʼn lewende testament egter nie aanwysings bevat vir genadedood of selfdood waar ʼn dokter ‘n pasiënt bystaan nie. “Ongeskiktheid weens siektes soos demensie en geestesgesondheid kan ook nie onder ʼn lewende testament gedek word nie.”

Harry Joffe, hoof van regsdienste by Discovery Marketing, sê dit is belangrik dat jou geliefdes weet wanneer jy ʼn lewende testament laat opstel het en waar om dit te vind. “Jy kan jou dokter of ʼn prokureur vra om dit vir jou veilig te hou.”

ʼn Lewende testament het geen regsafdwingbaarheid in Suid-Afrika nie. “Dokters en familielede hoef nie te voldoen aan die wense in ʼn lewende testament as daar enigsins ʼn kans op herstel is nie,” sê Joffe.

Buys wys ook daarop dat in gevalle waar daar ʼn voorafgaande direktief bestaan, veral in ʼn unieke stel omstandighede waarin die betrokke individu die gevolge van hul dade kan begryp, sal wense in ʼn lewende testament nie van krag wees nie. “Dokters moet voldoen aan die vereiste mediese standaarde, in teenstelling met die nakoming van die bepalings van ʼn lewende testament.”

Indien jy besluit om ʼn lewende testament op te stel, word daar aanbeveel dat jy ʼn regspraktisyn raadpleeg wat die nodige ervaring en kennis het vir die opstel daarvan. “Daar moet verskeie goed oorweeg word met die opstel van ʼn lewende testament, waaronder die mediese behandeling wat nodig is. Dit kan moeilik wees om daaraan te dink om sulke dokumente op te stel, terwyl jy ook fokus op die behandeling van ʼn lewensveranderende of gevorderde siekte. Dit kan ook emosioneel uitdagend wees vir geliefdes om jou gedagtes te hoor oor die versorging wat jy wil hê aan die einde van jou lewe.”

Artikel deur Nico Strydom.

Leave a Reply

error: Content is protected !!