Meer as ‘n derde van die uitvoerende hoofde van die grootste genoteerde maatskappye in Suid-Afrika het nie ‘n salarisverhoging in 2020 gekry toe die Covid-19-pandemie die land geraak het nie, maar 80% van die JSE-genoteerde maatskappye het steeds daarin geslaag om bonusse aan bestuurders uit te betaal – selfs al moes werkers in ander dele van die ekonomie verminderde werksure aanvaar of ontslaan word.
Dit is net ‘n paar van die bevindings in Deloitte se nuutste gids oor vergoeding vir genoteerde maatskappye, insluitend die resultate van die top 250 JSE-genoteerde maatskappye in Suid-Afrika.
Die verslag het bevind dat die mediaan totale vergoeding (TR) van ‘n uitvoerende hoof – uitgedruk in ‘n enkele syfer, insluitend basiese salaris, bydraes en aansporings – met 7,09% gestyg het van 2019 tot 2020.
Die data toon egter dat dit te wyte is aan die toenames by die top-vyf dubbelgenoteerde ondernemings op die JSE. Ter vergelyking het uitvoerende hoofde van groot, medium en klein JSE-genoteerde ondernemings ‘n afname in hul TR tussen 2019 en 2020 beleef.
Die gemiddelde totale vergoeding vir ‘n uitvoerende hoof is nou gemiddeld ongeveer R14 miljoen vir al die 250 maatskappye wat ondervra is, het Deloitte gesê. Kleiner maatskappye se uitvoerende hoofed verdien ongeveer R8 miljoen per jaar.