Skip to main content

Daar is nie geld in die munisipale koffers om die nuutgestigte Mangaung Metro-polisiedienste te befonds nie. Dit was nasionale tesourie se bevinding.

Aangesien daar ‘n verpligte finasiële herstelplan is, is daar nie ‘n manier dat hierdie plan gevolg kan word as die nuut-aangestelde mense betaal moet word nie, meen Malijeng Mgqaleni, (die tesourie se hoof van interregeringsverhoudinge). ‘As die munisipaliteite nie by hul herstelplanne hou nie, sal die nasionale regering moet ingryp’, lui ‘n brief aan die Mangaung raad.

Sello More moes in duidelike woorde hoor dat dit nié onderhandelbaar is nie. Hy was beveel om, as rekenkundige beampte, rekenskap te gee van waarom die metropolisiediens op die been gebring is.

‘Alle bewyse van hoe dit gebeur het moet aan Mgqaleni voorgelê word ter verduideliking. Dit sal die tesourie help om te weet wie direk verantwoordelik is vir die besluit en wie aanspreeklik is vir die uitgawes wat die metro aangaan’, lui die brief. As die ouditeur-generaal bevind dat die uitgawes vrugteloos en verkwistend was, sou ‘n herstelproses geïmplementeer word.

“U word hiermee aangeraai om die nodige stappe te doen om die raad aan te beveel om hierdie ondeurdagte besluit so gou as prakties moontlik te herroep en die nasionale tesourie binne die volgende 14 dae betyds in kennis te stel van die posisie van die metro,” het Mgqaleni gesê.

Die woordvoerder van Mangaung, Qondile Khedama, het gesê elke metro het ‘n mandaat om ‘n metropolisie te stig.

‘Daar is geen ekstra koste verbonde aan die oprigting van die metropolisie nie, omdat wetstoepassing en verkeer in die openbare veiligheidsafdeling bestaan. As stad wil ons nie die tesourie ondermyn nie. Ons sal ‘n gesprek voer met Cogta, wat verder sal adviseer oor die administrasie van Mangaung.

‘Die tydsberekening (van die oprigting van ‘n polisiemag) kan verkeerd wees, maar daar kan nie ‘n gaping in wetstoepassing wees nie. Die veiligheid van die burgers is ‘n prioriteit,” het Khedama gesê.

Die tesourie het egter gesê dat die stad sy instruksies by baie geleenthede geïgnoreer het, berig TimesLIVE.

Leave a Reply

error: Content is protected !!