Skip to main content

ISAAC CLOETE

Terwyl inwoners in Namakwaland in trane bly oor ‘n mynramp is daar met ‘n reddingspoging begin.

Die ramp het Woensdag by die Nuttaboy-myn naby Komaggas gebeur.
Volgens aanduidings is verskeie permitlose delwers daar vasgekeer of gedood.

Die twee munisipaliteite op Springbok, die Namakwa-distriksmunisipaliteit en Nama Khoi, het Donderdag ‘n persverklaring hieroor uitgereik. Hulle het eerstens aangedui dat hulle nie kan bevestig hoeveel mense dood of nog steeds vasgekeer is nie.

Luidens die verklaring het hulle verder onderneem om met ‘n  reddingspoging te begin.

“Nadat daar met verskeie rolspelers beraadslaag was, is besluit om dieselfde reddingspan te gebruik wat betrokke was by die Bontekoe-mynramp nege jaar gelede. Bontekoe is in dieselfde area as die Nuttaboy-myn.”

In Mei 2012 was ongeveer 26 delwers toegeval. Hierdie reddingspan kon later 10 lyke na die oppervlakte bring.

Hieroor het kapt Paulus Swartbooi van die Nama’s gesê: “Steeds is daar onbeantwoorde vrae oor die Bontekoe-ramp. Mense worstel steeds met daardie pyn. Was dit werklik hulle geliefdes wat hulle begrawe het? Die families het net liggame gekry om te begrawe en dit was verkeerd.”

Volgens hom hang die trauma van Bontekoe nog steeds in die lug. Dit het nou weer lewendig geword na die mynramp by Nuttaboy.

Intussen het die leier van die Patriotic Alliance, Gayton Mckenzie, Donderdag op Springbok na die Nuttaboy-myn voorval verwys.

Hy het gesê dat die PA die delwers bymekaar gaan bring sodat planne beraam kan word oor hoe die myne beveilig kan word.

“As ons in bewind kom sal ons ook die mynbou in Namakwaland stabiliseer sodat werk geskep kan word. Namakwaland is van die rykste mynbou-areas, maar dit het van die armste mense.”

Die operasies het intussen begin, maar die reddingspanne van Black Mountain myn by Aggeneys kon egter nog nie daarin slaag om by enige delwers uit te kom nie. Die area is baie onstabiel en lewensgevaarlik, volgens ‘n kenner van die omgewing. Die publiek is ook gewaarsku en belet om weg te bly van die myn-area.

* Plaaslike inwoners wat navrae het oor hul delwers wat moontlik nog in die tonnels is, kan met Dereck Cloete by die Nama Khoi-munisipaliteit skakel. Die nommer is: 027 7188100.

Leave a Reply