Skip to main content

Nadat SAL vir ongeveer ses maande geen vlugte onderneem het nie, en die ‘nuwe SAL’ slegs drie weke aan die gang is, toyi-toyi die werkers reeds buite hul kantore.

Die meeste betogers was werknemers wat verkies het om deel te neem aan ‘n regeringsprogram vir opleiding eerder as ontslag of om ‘n vrywillige skeidingspakket (VSP) te neem tydens die sakereddingsproses van die lugredery.

Die protesaksie is namens hul lede gereël deur die National Union of Metalworkers of SA (Numsa) en die SA Cabin Crew Association (Sacca).

Phakamile Hlubi-Majola, woordvoerder van Numsa, het Vrydag gesê die werknemers wat vir die opleidingsprogram gekies het, voel “oor die hoof gesien”, berig Fin24.

“Ons uitdaging is dat hierdie mense tuis sit terwyl die lugdiens weer begin met die bedrywighede. Die SAL laat hulle aansoek doen om poste, maar dan kry hulle nie die pos nie. Hulle is dus in die moeilikheid,” het sy gesê.

Die SAL het sy bedrywighede op 23 September vanjaar hervat nadat dit die eerste staatsonderneming was wat in Desember 2019 onder sakeredding was. Hulp ter waarde van meer as R30 miljard kon die lugredery nie red na meer as ‘n dekade van finansiële wanbestuur, ‘n ineenstorting in regering en korrupsie nie. Dit is sedert April vanjaar nie meer onder besigheidsredding nie.

Leave a Reply