In net vier jaar het die alternatiewe aandelebeurs A2X daarin geslaag om die titel van Afrika se tweede grootste beurs te beklink nadat sy markkapitalisasie tot byna R5 triljoen gestyg het. Net ‘n jaar gelede het dit op ‘n waarde van R2 triljoen gestaan.
Toe A2X in Oktober 2017 sy debuut gemaak het, kon hy regstreeks meeding met Johannesburgse aandelebeurs (JSE) deur ‘n alternatiewe platform vir maatskappye te bied om tweede noterings te hê waar hulle aandele verhandel kan word. Dit het begin met drie noterings van toonaangewende maatskappye in die finansiëledienstesektor, soos Coronation Fund Managers, African Rainbow Capital en Peregrine Holdings.
Kevin Brady, uitvoerende hoof van A2X, het gesê dat sommige van die sukses daarvan voortspruit uit die operasie van ‘n paar makelaars wat meer effektief en naatloos op markte kon handel. In September bereik dit rekordverhandelingsvlakke met ‘n daaglikse gemiddeld van R200 miljoen. Hy skryf ook die sukses van die beurs toe aan die kwaliteit van sy genoteerde maatskappye en sê dit moedig ander maatskappye aan om ‘n tweede notering op A2X ernstiger te oorweeg.
Die beurs is nou 56 noterings sterk, met 12 van dié wat op die JSE se top-40 maatskappye verskyn. Die jongste JSE-top-40-onderneming wat by die beurs aangesluit het, was Investec.