Skip to main content
ISAAC CLOETE
Dit is blykbaar hoogsbetalend, maar uiters gevaarlik om met bedreigde plante te smous.

So het drie jongmense van die Namakwa-omgewing onlangs uitgevind toe hulle met die gereg gebots het. Duur borgtog was hulle voorland. Boonop is ‘n rooi VW golf en al drie se selfone gekonfiskeer.

Sean Magerman (25), Bradley Saal((24) en sy verloofde, Tarron-Leigh Joseph (24), is onlangs op die N-7 vasgetrek weens die besit en vervoer van bedreigde vetplantjies, veral die gewilde conophytum-spesies.

Volgens die polisie van Moreesburg was hulle vasgetrek na ‘n wenk van die publiek.
Altesame 2331 plantjies  was in die voertuig gevind. Die meeste is waarskynlik bedreigde spesies, en afkomstig van die
Namakwaland-omgewing volgens ‘n ingeligte. Kontant ter waarde van R80 000 was ook hulle besit gevind.

Die drie kon nie enige bewys voorle wat aandui waarom hulle in besit van die bedreigde plantjies was nie.

Hulle het reeds op Moreesburg in die hof verskyn op aanklagte van die besit van die plante. Beide se borgtog was vasgestel op R25 000. Hulle volgende verskyning is weer op 26 Oktober hier. Die ondersoekbeampte in die saak is AO Rudi Lourens.

Magerman is tans uit op borgtog van R 2 000 vir n soortgelyke
oortreding in die ZF Mgcwu-streek, by Upington.

Kapt Paulus Swartbooi, van die Nama’s,  het vroeër verontwaardig  gesê dat die plaaslike mense hulle nie moet wend tot die vernietiging van plaaslike skaars en bedreigde flora en fauna nie. Hy was ook dankbaar dat die wetstoepassers alles probeer om die misdadigers vas te vat.

Hy het verder gesê: “Ons mense moet egter ook nie uitgelok word nie om hulle arm omstandighede so te probeer verbeter nie. Daar moet ook gekyk word na die toerisme-bedryf want baie van die sogenaamde toeriste kom en vernietig ook ons natuur sonder dat teen hulle opgetree word.”

Swartbooi voel ook dat die plaaslike mense bematig moet word sodat hulle presies weet watter plante  bedreig is. Sodoende sal die natuurlike hulpbronne van Namaland nie so onnodig vernietig word nie, volgens hom.

Dit het intussen aan die lig gekom dat die Chinese en Koreane van die gewilligste kopers is van Suid-Afrikaanse bedreigde spesies. Hiervoor betaal hulle jaarliks miljoene rande.

Kapt Karel du Toit, hoof vir die eenheid vir veediefstal en bedreigde plantspesies, op Springbok, wou nie aandui of hierdie plantjies van die Namakwa-streek af  kom nie.  Hy het egter voorheen vertel die Conophytum-spesies nou die “in ding” is vir veral Chinese en Koeane.

Weens die Covid-pandemie maak hulle van veral werklose plaaslike mense gebruik om die plante te versamel en te verkoop aan die oosterlinge.

Dis egter baie kommerwekkend om te weet dat baie min polisie- of doeane-beamptes blykbaar in staat is om Conophytum-spesies te identifiseer. Of die verskil te weet tussen ‘n wilde veld-Conophytum en een wat in ‘n kwekery gekweek is.

Leave a Reply