Skip to main content

Drie ministers is gisteraand bykans twee ure lank gyselaar gehou by die St George’s Hotel buite Pretoria.  Die ministers van verdediging, Thandi Modise, die minister in die presidensie, Mondli Gungubele en die adjunk-minister van verdediging, Thabang Makwetla, was deel van die gyselaarsdrama.

‘n Groep bekend as die Liberation Struggle War Veterans (SLWV) was nie baie gelukkig dat minister Modise vervang is met adjunk-president David Mabuza om ‘n vergadering met hulle te lei nie.

Die groep sluit oudstryders van Umkhonto we Siswe (MK), die militêre vleuel van die ANC, die PAC se gewapende vleuel (Apla) en die Azanian National Liberation Army (Azanla) in.

Die veterane eis dat daar aan elke lid R2,2 miljoen uitbetaal word.  Hulle eis ook behuisingstoelae, mediese fonds vir hulself, hul vroue en kinders en tersiêre opleiding vir hul kinders.

Die Polisie het die gyselaarsdrama laat gisteraand ontlont en die ministers is daarna vrygelaat.


Leave a Reply