Skip to main content

Die moord van ds. Liezel de Jager het die NG Kerk Suidkus op Amanzimtoti geruk.

Gisteroggend omstreeks 7:00 is De Jager (38) se liggaam op die erf van die pastorie in Dan Pienaarweg gevind. Volgens polisie was haar selfoon en sleutel langs haar liggaam gevind.

“Sy het wurgmerke om haar nek gehad en niks van haar besittings is geneem nie,” se polisiewoordvoerder, kol.Thembeka Mbele.

Die skriba van die gemeente, Bianca Swanepoel, sê De Jager het gisteroggend saam met ‘n groep mense gaan draf. Sy is vermoedelik oorval kort nadat sy weer na die pastorie teruggekeer het.

Nadat haar man, Werner, hulle dogtertjies, Ila en Lane, reggekry het vir skool het hy op sy vrou se liggaam afgekom.

Swanepoel het gese dat sy aanvanklik dit nie kon glo toe werkers se daar is moeilikheid by die pastorie en dat die polisie daar is nie. “Dit is verskriklik. Dit is wreed. Daar is soveel onbeantwoorde vrae. Hoe word ‘n predikant by ‘n pastorie vermoor?

“Sy was eerlikwaar die mooiste mens van binne en buite. Soos jy Liezel op die kansel sien, so sien jy haar is die alledaagse lewe. Sy was toegewyd aan haar gesin en haar werk en was die beste predikant waavoor ons in hierdie tyd kon vra.

“Sy kon met jong mense werk en met bejaardes. Van ons bejaarde lidmate bel in trane. Hulle sukkel om te praat, maar wil weet of dit die waarheid is. Selfs dan sukkel hulle om die nuus te glo,” se Swanepoel.

Werner en die dogtertjies is fisiek ongedeerd na die aanval, maar is “emosioneel verpletterd.”

Tientalle boodskappe van medelye het reeds op sosialemediaplatforms van gemeentelede, vriende en ander gemeentes ingestrrom.

Volgens die polisie word ‘n saak van moord ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

One Comment

  • SalomeyM says:

    Ek ruik ń ROT. Hierdie was ń uiters persoonlike moord. Iemand wat as die “hoof” bekend sou wees…

Leave a Reply