Skip to main content

Indien u besluit het om rekenaargesteunde onderrig en leer deel te maak van u kinders se tuisskoolreis is u en u kinders nou deel van ‘n gemeenskap wat gelyktydig in twee wêrelde leef: ‘n fisiese en ‘n virtuele een. Net soos in die fisiese een is daar altyd gevare en risikos in die virtuele wêreld ook en, soos dit in die geval is, in die fisiese wêreld, moet u die gevare en risikos in die virtuele wêreld effektief bestuur.

Daarom, soos ons in die vorige artikel belowe het, kyk ons in hierdie artikel na sowel die onderrig- en leer geleenthede wat die gebruik van rekenaars aan u en u kinders beskikbaar stel sowel as die gevare en risikos verbonde aan die gebruik daarvan.

Ons maak ook enkele voorstelle – niks voorskriftelik nie – oor hoe u en u kinders ‘n rekenaar maksimaal vir onderrig en leer kan gebruik sowel as hoe u kan verseker dat die risikos verbonde aan die gebruik van rekenaars sover moontlik vermy kan word.

Kom ons kyk eers vlugtig na maniere waarop die gebruik van rekenaars ons lewens kan verryk, verbreed en vergemaklik. In die eerste plek het ons nou direkte kontak met die hele wêreld. Ons kan met mense in enige land kommunikeer deur middel van e-posse, WhatsApp, Skype, ensomeer. Ons kan selfs vergaderings, troues, en begrafnisse virtueel bywoon sonder om die huis of ons werkplek te verlaat. Ons hoef nie meer na ‘n biblioteek toe te gaan om inligting oor iets te soek nie want ons kan d.m.v. Google toegang kry tot elke beskikbare webwerf om inligting oor omtrent elke ding te bekom.

Omdat ons ons geldsake d.m.v die Internet kan bestuur hoef ons nie ure lank in rye by die bank te staan om dit te doen nie. Ons kan selfs, deur net op ‘n skakel of ‘n webwerf te kliek vir werk enige plek in die wêreld aansoek doen. As gevolg van hierdie onbeperkte toegang tot amper enige iets is ons dus bloot Suid-Afrikaanse burgers nie, maar burgers van ‘n virtuele digitale wêreld.

Ongelukkig het hierdie droomwêreld ook ‘n donker/skadukant. Deurdat ons basies onbeperkte toegang tot die hele wêreld het – geen Covid-paspoort is daarvoor nodig nie – stel ons onsself bloot aan allerlei gevare: fisies, ekonomies, sosiaal en emosioneel. Iemand sou byvoorbeeld kon besluit om ons digitale toestelle met een of meer virusse te besmet, ons geld en/of identiteit te steel, ons te teister, boelie of op ander maniere skade aan te doen. En as iemand anders dit nie doen nie, kan ons onsself fisiese, emosionele of finansiële skade aandoen. Sou ons te veel tyd in ons digitale omgewing bestee, kan ons dalk ontwater, oorgewig raak, bestralingskade opdoen, anti-sosiaal word of verslaaf raak aan aanlynspeletjies of dobbelary. Indien ons nie die nodige stappe neem om hierdie risikos te beperk of bestuur nie kan dit ons oneindige skade aandoen.

Die vraag is of hierdie risikos ook deel vorm van rekenaargesteunde onderrig en leer.  Indien u besluit het om u kind by een van die rekenaargesteunde onderriginstansies te registreer, sal die nodige leermateriaal bes moontlik elektronies aan u kinders beskikbaar gestel word. U kinders sal dit dan moet aflaai, bestudeer, die vereiste werkopdragte elektronies voorberei en aan die instansie terugstuur. Daar sou dalk ook van hulle verwag word om op eie stoom aanvullende inligting op die Internet te soek ten einde hierdie opdragte suksesvol te voltooi.  Dit is dus noodsaaklik dat u kinders moet weet waar en hoe hulle toepaslike rekenaarsoekstasies kan identifiseer en gebruik, hoe hulle die inligting mag gebruik of verwerk en hoe hulle te werk moet gaan om dit in te dien. Ten einde dit te kan doen sal hulle reeds die nodige rekenaarvaardighede onder die knie moet hê.

Indien die instansie ook virtuele lesse met behulp van aanlynfasiliteerders aanbied sou u kind op spesifieke tye in die virtuele klaskamer moet aanmeld, in staat moet wees om met die fasiliteerder in gesprek te tree en met ander leerders in die virtuele klaskamer saam te werk. Dit klink veilig genoeg maar onthou, iemand se teenwoordigheid op die Internet stel hom/haar alreeds bloot aan gevaar: iemand kan sy/haar identiteit steel, hom/haar ‘afloer’, sy/haar reputasie skade aandoen, ensovoorts.

Met betrekking tot die gebruik van rekenaars vir leerdoeleindes is die moontlikheid nie uitgesluit dat ander leerders in jou kind se virtuele klaskamer hom/haar kan verkleineer, boelie, of in ‘n slegte lig stel nie. Hulle sou ook in staat wees om inligting wat u kind op internetsoekstasies of webwerwe versamel het, of werkopdragte wat hy/sy voltooi het, vir hulself toe te eien en in te dien. Dit behoort dus vir u duidelik te wees dat dit absoluut noodsaaklik is om die nodige stappe te neem om u kind se persoonlike, emosionele, sosiale en intellektuele veiligheid te verseker wanneer hy/sy die rekenaar vir leerdoeleindes gebruik. As ouer is dit u verantwoordelikheid om u kind se veiligheid in hierdie verband te verseker.

Wat behels dit alles?

In die eerste plek behels dit NIE dat u u kinders moet afloer, hulle gesprekke moet afluiste, hulle rekenaars sonder hulle medewete ‘inspekteer’, of hulle dwing om elke dag aan u verslag te doen oor hulle gebruik van hierdie toestelle nie. Indien u dit doen is die kanse goed dat hulle dan juis in die geheim dinge gaan doen wat hulle in gevaar kan stel. Moet dus liefs nie polisieman/vrou probeer speel nie. ‘n Veel beter benadering is om met u kinders oor hulle en u eie internet-ervarings te gesels:  U is immers op ‘n inligtingsoektog!! Gesels byvoorbeeld oor hoe die verskyning van digitale tegnologie die wêreld en mense se leefwyses verander het. Vra hulle waarvoor hulle verskillende toestelle gebruik en vertel hulle waarvoor u dit gebruik. Gesels oor die verskillende webwerwe julle besoek, wat julle met die inligting doen wat julle daar kry, met wie julle gesels en waaroor, watter aspekte van digitale kommunikasie of die gebruik van digitale toestelle u opgewonde maak of frustreer. U kan dalk selfs saam met u kinders Internetsoektogte of navorsing doen, speletjies speel of Netflieks kyk.

In die tweede plek behoort u met u kinders oor kuberveiligheid en sekuriteit te gesels. Een manier om dit te doen is deur middel van ‘n analogie. Vra u kinders of hulle veilig of onveilig voel in hul eie huis en hoekom. Hulle kan dalk verwys na diefwering, alarmstelsels, gemeenskapspolisiëring, kameras, ensovoorts. Verduidelik dan aan hulle dat daar soorgelyke stelsels is wat gebruik kan word om internetreisigers teen kuber misdadigers (identititeitsdiewe, kuberafloerders en/of boelies) te beskerm. Bespreek met hulle van die stappe wat u graag sou wou neem om hulle teen sulke misdadigers te beskerm, vra hoe hulle daaroor sou voel en of hulle dalk aan ander maniere kan dink om hul kuberveiligheid te verseker. Verseker hulle dat u hulle privaatheid sal respekteer en dat u nie in die geheim hulle selfone of rekenaars sal nagaan om te sien met wie en oor wat hulle gesels nie. Beklemtoon dat u doel nie is om kuberpolisieman/vrou te speel nie; dat u sou wou hê dat hulle u eerder as ‘n beskikbare en betroubare ‘internet toergids’ beskou, iemand met wie hulle vryelik en sonder vrees vir verwerping of straf hulle internet-ervarings kan bespreek.

In die derde plek behoort u nou daadwerklike stappe te neem om te versker dat die toestelle wat u en u kinders gebruik vir kubermisdadigers ‘gesluit’ is. U sou dus die nodige sekuriteitsagteware en anti-virusprogramme op hierdie toestelle installeer. U sal ook moet seker maak dat u kinders weet hoe en wanneer om dit op te dateer. U sal ook moet seker maak dat sodanige opdatering op ‘n gereelde basis gedoen word. U en u kinders sal ook gesamentlik ‘n stel rëels moet opstel wat sal verseker dat hulle gebruik van rekenaars en ander digitale toestelle hulle nie op enige manier benadeel of in gevaar stel nie. Hierdie moet liefs nie ‘n diktatoriale proses wees nie. ‘Ons sou aanraai dat u liefs eers met hulle in gesprek tree oor moontlike gevare wat met die gebruik van tegnologie gepaard gaan; hulle oortuig van hoe belangrik hulle veiligheid vir u is; hulle vra wat u kan doen om hulle veilig te hou en laastens, maar nie minstens nie, hoe hulle hulself behoort te gedra ten einde nie hulself of iemand anders in gevaar te stel nie.

Wees baie versigtig hoe u hierdie proses hanteer. Moenie die indruk skep dat u hulle nie vertrou nie. Oortuig hulle eerder om u te vertrou. Erken dat hulle heel moontlik tegnologies meer ervare is as uself maar dat, omdat hulle vir u baie spesiaal is, u alles moontlik wil doen om te verseker dat hulle ten alle tye veilig is. Verseker hulle dat dit nie u plan is om kuberpolisiering te doen nie, of ‘n indruk skep dat u die rol van ‘n kuberpolisieman/vrou wil wees nie. Hulle moet u eerder beskou as ‘n betroubare, beskikbare kubertoergids na wie hulle kan kom as hulle dalk ‘verdwaal’.

U is egter nie alleen vir u kinders se veiligheid verntwoordelik nie. Hulle moet self ook verantwoordeikheid aamvaar vir hul internetgedrag en die risikos wat onverantwoordelike gedrag vir hulle mag inhou.  Boonop moet hulle, wanneer hulle ookal ongemaklik of bedreig voel deur iets wat op hul rekenaarskerm verskyn moet hulle dit onmiddellik met u bespreek.

In die volgende artikel kyk ons in meer besonderhede na wat die Wetlike bepalings oor kuberpraktyke behels asook na spesifieke risikos en gevare wat u kinders se veiligheid mag bedreig en die maniere waarop hulle dit behoort te hanteer.

Laastens kyk ons na die emosionele en psigiese effek wat kuberboeliery op hulle kan hê, watter tekens vir u ‘n aanduiding is dat hulle geboelie word en wat u daaromtrent kan of moet doen.

Leave a Reply

error: Content is protected !!