SONJA BROWN
Vanjaar se matriekdames het geen spesifieke neiging wat matriekafskeidrokke betref nie. Dis nou volgens ons wêreldbekende ontwerper, Simon Rademan.
“Dié met geld sal maar altyd koop,” sê hy, maar voeg ook by dat jong dames tot op die laaste nipper wag voordat hulle hom besoek vir die ideale rok. Hulle daag ook dan nie met leë hande op en verwag van hom om iets op te tower soos voorheen nie. O nee, die skoner geslag swiep prente wat hulle op Pinterest raakgeloop het teen sy gesig, en verwag dan dat hy volgens daardie uitrustings hulle in feëprinsesse gaan verander.
Dit werk in meeste gevalle, maar Rademan glo ongetwyfeld in ‘n resep wat nog altyd gewerk het: bors, middel, heup. En lengte is alles! Hy sê dat hy selfs die kortste meisie lank kan laat vertoon.
Rademan bevestig dat sy pryse nie verander het nie, al knyp die ekonomie. Hy het gereelde kliënte, en ouma’s, ma’s en dogters uit dieselfde families maak al vir jare op sy vernuf staat om hulle mooi te laat lyk. Daar is wel minder ernstige kopers wat by hom aanklop, en hulle almal loop weg met ‘n breë glimlag.
Hy sê dat baie rokke wat ‘van rakke af’ gekoop word, nie noodwendig by die dames se lywe pas nie, of hulle só pas soos wat dit op winkelpoppe vertoon nie. Baie daag by hom op om van die ekstra ‘hobbels’ tussen bors en heup ontslae te raak.
Die klere wat hy self maak pas soos ‘n handskoen aan die lyf wat dit gaan aantrek.
Wat Rademan wel opgelet het is dat blomme en krale wêreldwyd oë wys.
Sy raad aan voornemende kopers van matriekafskeidrokke: “Hou die aandag bo, meisies! Spandeer meer aan jou rok se bokant as aan die onderkant. Net in geval selfies of zoompartytjies opduik.”
Simon Rademan is ‘n tipiese Pisces. As Suid-Afrikaanse couturier, – een wat bekend is vir sy etiket en styl – vind ek hom sjarmant asook galant en ek kan aflei dat hy moeite doen om sy kliënte gelukkig te hou.