Tussen vier en twaalf diamantdelwers word steeds vermis nadat ‘n skag by die Nuttaboy-myn naby Kleinsee in Namakwaland vandag (Woensdag) ingestort het.
‘n Sterk polisiemag, wat verskeie polisiehonde en –hanteerders ingesluit het, was op die toneel maar vroeg vanaand het hulle nog nie daarin geslaag om enige van die vermiste delwers te vind nie. “Hulle staan net daar en doen niks,” het iemand wat op die toneel was vertel.
Die delwers wou in ‘n stadium self ingryp om hulle makkers uit te grawe, maar is deur die polisie gekeer.
‘n Beampte van die nabygeleë Buffelsbank-myn was op die ramptoneel om die gebruik van grondverskuiwingstoerusting aan te bied om met die desperate soektog te help, maar is deur die polisie verjaag. “Verwyder jouself, of ek verwyder jou,” het ‘n polisieman na bewering aan die beampte gesê.
“‘n Delwer het aan my gesê daar is minstens vier mense ‘daar binne’, maar dit kan tot twaalf wees,” het die beampte aan Die Waarheid gesê. Die identiteit van geen van die vermistes is bekend gemaak nie, maar delwers sê een van hulle is alombekend as “Siepie”.
Geen verdere inligting is in hierdie stadium beskikbaar nie, maar Die Waarheid behoort more-oggend (Donderdag) ‘n opgedateerde verslag te kan publiseer.