Een van die verdagtes wat na bewering betrokke was by ’n onlangse plaasaanval in die Sussenvale-omgewing buite Modimolle, is in hegtenis geneem.
Die rowers het in ‘n silwerkleurige Volkswagen Polo op die vlug geslaan. Die voertuig is die volgende dag deur die polisie in Hammanskraal opgespoor.
Die Modimolle-taakspan, onder leiding van AO Ross Rossouw, het nadat hulle die voertuig opgespoor het, die verdagte se woning in Hammanskraal deurgesoek en op van die items afgekom wat glo tydens die plaasaanval geroof is.
Volgens AO James Findlay, ‘n polisiewoordvoerder, het die Modimolle-speurtak inligting ontvang dat die vermeende rower op 28 September in die Pretoria-landdroshof sou verskyn op ’n vorige aanklag teen hom, wat verband hou met die besit van gesteelde koperkabels.
Die verdagte het by die hof opgedaag met ’n donkergrys Toyota Fortuner, wat na bewering tydens die plaasaanval gebruik is. Direk na sy hofverskyning is hy weer gearresteer in verband met die plaasaanval op Saterdag 18 September.
Die verdagte is sedertdien in aanhouding en het reeds in die Modimolle-streekhof op aanklag van huisroof verskyn. Die soektog na die ander drie verdagtes duur voort.
Lede van die publiek wat oor enige inligting beskik, kan die polisie se stopmisdaadnommer skakel by tel. 08600 10111.