Drie verdagtes is aangekeer nadat verskeie honde wat in ‘n hondegeveg in Atlantis gebruik was, deur amptenare van die Kaap van Goede Hoop-dierebeskermingsvereniging en Kaapstadse wetstoepassingseenheid vir dierebeheer gered is.
Die amptenare het Saterdag op die toneel toegeslaan waar twee van die honde nog besig was om te baklei. Verskeie verdagtes het probeer vlug.
Honde wat ernstig beseer was is vir veeartsbehandeling gestuur nadat hulle talle sny- en bytplekke opgedoen het.
Die vermeende organisasie van die hondegeveg is kort daarna opgespoor. Die eienaar van die eiendom waar die geveg plaasgevind het en nog ‘n persoon wat deel was daarvan, is ook vasgekeer.
Die vier honde waarop beslag gelê is, bly by die DBV hangende die uitslag van die hofsaak.
Hondegevegte is onwettig in Suid-Afrika en diegene wat daaraan skuldig bevind word, kan ‘n boete van tot R80 000 in die gesig staar, of tronkstraf kry.
Dit is ‘n misdaad om op enige manier betrokke te wees by dieregevegte. Dit is ook onwettig om diere spesifiek hiervoor te koop, te verkoop of in te voer.
Dit is ook ‘n misdaad om ‘n toeskouer van ‘n hondegeveg te wees, of om op dieselfde perseel te wees waar so ‘n geveg plaasvind.