Skip to main content

*Sara het haar vir jare beywer om te sorg dat haar seun se eis aan die Padongelukkefonds slaag. Hy is ernstig beseer in ‘n minibus-ongeluk toe hy maar net nege jaar oud was.

Nege jare later word ‘n lewenslange maandelikse bedrag aan hom toegestaan aangesien hy kreupel gelaat is en dit pynlik is om te loop. Die bedrag beloop R2000 per maand, min of meer wat SASSA se ongeskiktheidstoelae is.

Vir die eerste jaar het hy die helfte van die geld aan sy ma oorhandig as bydrae vir huur en voedsel. In jaar twee het die bydrae tot R500 gekrimp, en sedert die inperking dra hy nie ‘n sent tot die huishouding by nie. Elke laaste sent word op drank uitgegee.

Die vraag ontstaan nou of dit beter is om ‘n maandelikse toelaag te kry, en of ‘n eenmalige bedrag beter sou wees. As ‘n eenmalige bedrag behoorlik belê kan word, sou die opbrengs daaruit wel minder wees, maar die oorspronklike belegging sou steeds daar wees.

*Sara sê dat albei tipes uitbetaling ‘n euwel kan wees. “Ek dink dat die POF ‘n eksekuteur, een wat verantwoordelik kan dink, in ‘n geval soos my seun s’n aangestel moet word. Ek het nie ‘n been om op te staan as my seun nie vir my geld gee nie. Hy sê net eenvoudig dis sý geld, en daar is hofdokumente om dit te staaf. Ek wil nie vir die mense by POF gaan sê waarop hy die geld uitgee nie, want ek is bang hulle staak die betalings. Maar dit help my nie as hy die geld kry en ek moet hom steeds elke dag uit my sak kosgee nie. Tye is moeilik. Ek kan verstaan dat hy gefrustreerd is omdat hy niks kan doen nie, maar hy stel nie eers belang om ‘n werk te kry waar hy net hoef te sit nie. Hy wil nie eers in my spazawinkel werk nie. Daar kan hy ook net sit en kliënte se geld vat en kleingeld gee terwyl ek ander mense bedien. Soms, en ja, ek weet dis erg om te sê, wens ek dat hy net homself wil dood drink. Die toelaag het sy siel kom steel. Hoe maak mens vorentoe? Ek is raadop.”

*Nie haar regte naam nie

Leave a Reply