Hierdie Afrikaland gaan steeds gebuk onder voortslepende oorloë. Dit is geen vreemde ding om verby lyke te loop, of om elke dag nuwe grafte te sien nie.
Tigray rebelle is tans doenig in die Amhara streek waar hulle wrede aanvalle op gewone burgers uitvoer.
Vreesbevange inwoners kruip vir dae aaneen, sonder kos, in enige beskikbare gaatjies weg in die hoop om dit te oorleef.
Meer as ‘n halfmiljoen burgers is haweloos sedert die rebelle die oorlog in Julie vanjaar begin het. En die rebelle het alle diere wat as voedsel kan dien gekonfiskeer. Daar is geen teken van beeste, bokke of skape in hierdie oorlog-geteisterde gebied nie.
Die regering is ook nie tegemoetkomend teenoor hulpgroepe nie. Senior VN lede is verlede week uit die land geskop omdat hulle in die land se ‘aangeleenthede inmeng’.
Gemma Snowdon, ‘n kommunikasiebeampte van WFP, sê: “Tans het ons $ 140 miljoen nodig om hulp te verleen waar nodig in die drie streke van Noord-Ethiopië, en dit sal toeneem as die situasie vererger.”
Inwoners van Chenna Teklehaymanot sê dat hulle tientalle liggame in ‘n massagraf begrawe het nadat rebelle in Tigray vroeg in September burgerlikes daar doodgemaak het.
Die Ethiopiese regering laat geen kommersiële verkeer in Tigray toe nie, telekommunikasie en bankdienste bestaan glad nie, en laat slegs die minimum hulpverlening aan burgers toe.
Die spanning tussen Amhara en Tigray duur al vir lank. Die twee streke stamp koppe oor ‘n gebied wat weer kop uitgesteek het toe die Amhara-burgermag westelike Tigray geannekseer het tydens die huidige konflik.