Skip to main content

FOTO’S DEUR CHANTÉ DANIEL

BERIG DEUR DIE WAARHEID-SPAN

‘n Arrogante voetganger wat onwettig oor die snelweg gehol het, het vanoggend veroorsaak dat verkeer kilometers ver op die R24-snelweg digby die OR Tambo-lughawe opgehoop het nadat hy deur ‘n bakkie getref is.

‘n Vragmotor met ‘n vrag bakstene het in die bakkie vasgery en ‘n tweede vragmotor het die trok getref. ‘n Vierde voertuig, ‘n goudkleurige 3-reeks BMW, was ook betrokke. Bakstene het oor drie bane gesaai gelê met slegs die linkerbaan, wat na die Voortrekkerweg/Lugvrag-afrit lei, wat oop was vir verkeer.

‘n Man in swart – die voetganger wat koek oor die snelweg probeer sny het – het op die middelmannetjie gelê en krul van die pyn. Duike in die bakkie se dak het aangedui dat die neus van die voertuig hom die lug in geslinger en oor die bakkie gewerp het.

Die bakkiebestuurder, geklee in ‘n rooi trui, het aanvanklik op die toneel rondgestap, maar het later dramaties op die teer ineengestort.

“Die voetganger was die oorsaak van al die skade. Ek hoop nie gefrustreerde motoriste gaan hom te lyf nie,” het ene Michelle van Cloete Sand, die eienaar van die vragmotor wat die bakkie getref het, gesê.

Paramedici en die Ekurhuleni Metropolisie was binne enkele minute – kort na Die Waarheid – op die toneel, waarna tientalle ambulanse en insleepvoertuie opgedaag het.

Die vragmotorbestuurder het lank agter ‘n verpletterde voorruit in die kajuit gesit, maar het later goed genoeg gevoel om uit te klim.

Leave a Reply