Skip to main content

As mens die ANC se 2021 verkiesingsmanifes deeglik bestudeer, is die kans dat jy aan die lag sal gaan, uitstekend. Dit is omdat ons as RSA burgers eerstehandse ondervinding het van wat in die land aangaan.

‘n Beter lewe vir almal. Dis dié party se leuse vir vanjaar se stembusse.

Die werklikheid is dat die ANC besef dat hulle op ‘n doodloopstraat afpeil, en dat hulle strategie sedert 1994, een van ‘verdeeldheid, konflik, vernietiging, ongelykheid en uitsluiting’ was, nes Cyril Ramaphosa in sy boodskap aan die begin van hul manifes bevestig.

Hy sê dat die party eerder ‘die weg van eenheid, harde werk, ontwikkeling, inklusiwiteit en gedeelde welvaart’ wil bevorder.

Natuurlik is die grootste oorsaak van die gemors waarin die land sit natuurlik in Covid-19 se skoot gegooi, want nie een van die ANC lede wil die blaam vir die chaos op àlle gebiede in ons land aanvaar nie. Sy woorde ‘die Covid-19-pandemie het baie lewens gekos en baie se lewensbestaan vernietig. Dit het armoede en ongelykheid vererger en veroorsaak groot swaarkry’ het ‘n tikkie waarheid in, maar die virus het moontlik net die laaste wiel van ‘n reeds gekrokte trok laat af val.

Wanneer gaan politieke partye besef dat dit wat hulle voor verkiesings die lug ingooi, net woorde is? Die werklikheid kom in effek nadat alle kruisies getrek is, en hulle aan hulle beloftes gestand moet doen.

Dit is maklik om te sê dat ‘ons belangrikste taak is om werk te skep en dringend armoede te verminder. Die skep van werk en volhoubare ekonomiese geleenthede vir die jeug is veral dringend.’ Maar daar is geen plan oor hoe om dit te bewerkstellig nie.

Of ‘Die afgelope paar jaar het ons stappe gedoen om die diepte van korrupsie wat op alle vlakke in die regering posgevat het aan te pak. Die ANC het gelei in hierdie stryd om korrupsie, misdaad en dwelm- en alkoholmisbruik te verslaan. Ons het instellings versterk om hierdie ernstige sosiale kwale te hanteer.’ Die ANC is die oorsaak van meeste van die korrupsie, dus is dit ‘n bietjie van ‘n dubbellemswaard om te sê dat hulle gelei het in die stryd om sekere dinge te beveg. Dis soos ‘n dokter wat op himself wil opereer…

Hoed af dat Ramaphosa erken dat munisipaliteite nie dienste gelwer het soos beloof nie, dat daar erge korrupsie was, en ongeoorloofde verkwisting van belastingbetalers se geld, dat ANC lede net vir eie gewin in hul ampte was, dat daar geen of min onderhoud op belangrike munisipale toerusting plaasgevind het, of dat menslike rioolafval straataf vloei, om maar net ‘n paar te noem.

Dan kom leuens soos ‘n tweede taal waarin hy sê dat ‘Sedert die koms van demokrasie het die ANC groot vordering gemaak om aan die basiese behoeftes van mense te voldoen en die voorsiening van onderwys, gesondheidsorg en ander dienste soos elektrisiteit en water te verbeter. Ons het baie gedoen om die plaaslike regering te transformeer en beter gemeenskappe te bou.’

Die ANC se manifest bevat ‘n string beloftes, maar as hulle (en dit sluit elke liewe politieke party in,) net kan besef dat ons, die Suid-Afrikaners, net ‘n land wil hê waar ons veilig voel, waar ons belastinggeld reg aangewend word, – dan sàl alle regeringsdepartemente wat ‘n diens lewer mos behoorlik funskioneer -, waar ons weet dat die polisie hul werk wettig en op tyd sal doen, waar alles skoon is, ‘n plek waarop mens weer trots kan wees.

Is dit te veel gevra?

Leave a Reply

error: Content is protected !!