‘n Beloning van R100 000 is uitgeloof vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die verdagtes verantwoordelik vir die moord van ‘n swanger vrou.
Die moord het destyds skokgolwe deur die land gestuur.
Twee jaar gelede, op 17 September 2019, is Karen Turner (33) dood en haar man, Matthew, was ernstig beseer nadat hulle in Hluleka-natuurreservaat in die Oos-Kaap in hul chalet aangeval is.
Daar is destyds beweer dat twee anvallers die chalet omstreeks middernag binnegekom het en hulle met skerp voorwerpe aangeval het. Matthew het glo die aanvallers probeer verwilder, selfs na die aanval. Die aanvallers het met leë hande gevlug.
Karen het die dag voor die moord haar 33ste verjaardag gevier en was tydens die aanval drie maande swanger. Die egpaar se 23 maande oue babaseuntjie het ongedeerd van die aanval afgekom.
“Die ondersoekspan het getuienis ingesamel en verklarings van alle getuies afgeneem oor die gebeure wat die aand plaasgevind het, maar pogings om die verdagtes op te spoor het nog geen positiewe resultate opgelewer nie,” het die polisiewoordvoorder kol. Priscilla Naidu gesê.
Enigiemand met inligting word versoek om die ondersoekbeampte, sers. Mtsikelelo Sambudla, te skakel by 082 4420 615 of Stop Misdaad by 08600 10111 te kontak.