Tyd is geld. Dit is ‘n duur les wat Mark Zuckerberg in die laaste 24 uur geleer het. Hy het oornag van posisie verander op die Bloomberg Billionaires Index, ‘n lys van die rykstes in die wêreld. Hy lê nou in die vyfde plek, een trappie onder Bill Gates, danksy ‘n fluitjieblaser.
Beleggersvertroue in Facebook het Maandag effe verswak te midde van voortgesette politieke druk en ‘n seldsame langdurige onderbreking van die maatskappy se programme, Facebook, WhatsApp en Instagram, wat aandele met 4,8% laat daal het en miljarde van die fortuin van die uitvoerende hoof uitgewis het.
Volgens ‘n verslag deur die DownDetector-portaal het probleme met die platforms in verskillende lande voorgekom.
Boonop is daar ‘n klomp ondersoeke wêreldwyd rondom die invloed van sosiale netwerke. Op 13 September het The Wall Street Journal ‘n reeks berigte gepubliseer waarin dit aan die lig gekom het dat Facebook ‘bewus’ was van die probleme wat sy ‘produkte’ veroorsaak, soos Instagram se skade aan die geestesgesondheid van adolessente en verkeerde inligting oor onderwerpe soos Covid-19 of die onluste wat vroeg in 2021 in die Verenigde State opgevlam het.
In ‘n onderhoud op die televisieprogram ‘60 Minutes’, verduidelik die fluitjieblaser Frances Haugen, ‘n voormalige Facebook-werknemer wat die dokumentasie aan die pers uitgelek het, dat sy tydens haar tyd by die onderneming ontsteld was oor die besluite wat geneem is: dat winste bo die openbare veiligheid geplaas is en mense se lewens in gevaar gestel is.
In die onderhoud het Haugen gesê dat sy Facebook vroeër vanjaar verlaat het omdat sy kwaad was vir die onderneming. Voordat sy vertrek het, het sy ‘n afskrifte van ‘n reeks memo’s en interne dokumente gemaak.
Die ‘arme’ Zuckerberg het sedert September R19 miljard van sy geld verloor.