Japan se prinses Mako en haar omstrede verloofde, Kei Komuro, het ‘n datum vasgestel vir hul lang uitgestelde huwelik, maar moenie ‘n koninklike affair verwag nie.
Vanweë die aanhoudende kritiek oor hul huwelik, sal die egpaar eenvoudig hul huwelik op 26 Oktober registreer – wat Mako die eerste koninklike lid in die naoorlogse geskiedenis sou maak wat sonder ‘n tradisionele vieringseremonie sou trou, volgens plaaslike berigte.
Mako, wat haar koninklike titel moet prysgee om met haar ‘gewone’ universiteitsliefde te trou, ondervind simptome van post-traumatiese stresversteuring weens die openbare reaksie op die egpaar, albei 29, se voorneme, het amptenare Vrydag gesê.
Hul naderende huwelik het ‘n buitengewone belangstelling in Japan veroorsaak. Die keiserlike familie se aansien in die oë van Japanese is byna goddelik, en hulle bly meestal uit die openbare oog.
Sedert die nuus van finansiële geskille in Komuro se familie in 2018 verskyn het, het die egpaar ‘n intensiewe ondersoek ondergaan.
Die twee het mekaar in 2012 ontmoet terwyl hulle aan die International Christian University van Tokio studeer het.
Mako het nie die geskenk van belastingbetalers van $1,35 miljoen aanvaar nie. Dit was bedoel om haar uittrede uit die koninklike familie te versag, en sy word die eerste in die koninklike familie in Japan om die betaling te verwerp.
Die egpaar is van plan om na die huwelik na die Verenigde State te verhuis, en gaan hulle waarskynlik in New York vestig, waar Komuro by ‘n prokureursfirma werk. Mako, ‘n navorser van die Universiteitsmuseum aan die Universiteit van Tokio en ‘n gesertifiseerde kunskurator, is reeds in aanvraag in die kunsbinnekringe in New York, berig Page Six.
Komuro is in kwarantyn nadat hy Maandag uit New York aangekom het, en die egpaar sal vir die eerste keer in drie jaar herenig sodra hy klaar is. Op 26 Oktober, na hul troue, beplan die egpaar om hul eerste nuuskonferensie sedert 2017 te hou.