C-Storm (Carel Sebastiaan) – Haal Asem
C-Storm of te wel Carel Sebastiaan, of sommer net Callie soos ons hom leer ken het, het pas sy derde enkelsnit Haal Asem uitgereik en dit is een van dáárdie liedjies wat vinnig kultusstatus gaan verwerf.
Waar sy vorige enkelsnitte Kol op die maan en Vaderland (wat beide dié jaar uitgereik is) rockers sou laat ween van pure vreugde, is Haal Asem ’n eksperimentele volwasse kontemporêre rockliedjie.
Callie, wat eers vroeër vanjaar sy musiek aan die publiek bekendgestel het, is ’n meester liedjieskrywer en storieverteller.
Nie een van sy snitte volg dieselfde eentonige patroon nie – ’n slaggat waarin baie liriekskrywers soms onbewustelik trap…
Callie, wat eers in sy vroeë vyftigs tot die musiekbedryf toegetree het, se lewendige konserte is net so indrukwekkend soos sy liedjies. Hy het ’n charismatiese verhoogpersoonlikheid waarby jonk en oud aanklank vind.
Met Haal Asem span Callie ’n tegniek in wat nie baie in musiek gebruik word nie – klanknabootsing. Dié snit open met iemand wat hard asem haal. In die skrywerswêreld staan die tegniek ook bekend as die hoek (of die Engelse hook) wat skrywers gebruik om lesers by die eerste paragraaf in te trek.
Haal Asem is ook pasknap vir sy donker, amper-weemoedige stem en drafstap gemaklik oor die laer note.
Callie is een van die nuwe generasie grendeltydperksangers wat die pyn en frustrasie van die pandemie uitstekend verwoord.
Haal Asem is egter nie ’n Covid-19 gesanik nie; dit is ’n positiewe liedjie wat ons aanmoedig om soms net terug te staan en asem te haal.
Dit word ook goed verwoord in die lirieke. “… as die winter jou kom haal, en jy’s moeg om rond te dwaal, haal asem.”
“As jou hart en kop nie saamstem nie, dan moet jy maar na jou longe luister; al wat jy kan doen is om rustig te raak en asem te haal. Die lewe is soos ’n hartklop. Daar sal altyd hoogte- en laagtepunte wees. Lekker en moeilike tye. Tye waar die son skyn, en tye waar dit donker is,” vertel hy.
Die tema van die liedjie is dus om rustig te raak en asem te haal. “... as die son agter ‘n wolk verdwyn, en die donker bring nog pyn, haal asem.”
Callie sê: “Die liedjie moet mense laat besef dat swaar tye nie vir altyd sal aanhou nie.”
Haal Asem is dan ook wel die titelsnit van sy debuut album waarop 10 oorspronklike nommers die luisteraar sonder moeite vasgevang hou.