‘n Oproer in ‘n tronk in Ecuador het gelei tot die dood van minstens 118 gevangenes.
Sommige gevangenes was onthoof toe mededingende dwelmbendes met gewere en granate slaags geraak het.
86 Gevangenes is beseer, van wie ses kritiek is. Die oproer het Dinsdag by die tronk in die hawestad Guayaquil uitgebreek. Die betrokke partye het glo bande met Mexikaanse dwelbendes.
Die polisie het eers Donderdag weer beheer oor die gevangenis gekry. Dit het meer as 900 polisiebeamptes gevat om orde te herstel.
Twee poliesiebeamtes is ook tydens die voorval beseer. Soldate was buite die tronk ontplooi waar familielede van gevangenes bymekaargekom het om te wag vir nuus oor hul geliefdes.
Die geweld het onstaan toe een van die bendes die verjaardag van hul leiers gevier het en gespog het oor hul beheer oor die gevangenis. Dit het glo tot woede van mededingende groepe elders in die tronk gelei.
Meer as 230 gevangenes is reeds vanjaar in tronkgeweld in Ecuador dood.