Deur Sonja Brown
Die Noord-Kaap lewer beslis pragtige kroondraers. Rika Cloete, oorspronklik van Namakwaland, het grootgeword in Skietbank, ‘n baie klein dorpie in Okiep. Min het klasmaats van dié laerskoolkind uit Holy Rosary Primary School, wat nou Okiep Laerskool heet, geweet dat sy eendag ‘n gesogte kroon sou dra: Mev. Noord-Kaap.
Rika het haar hoërskoolloopbaan by die S.A van Wyk Sekondêre skool in Namakwaland voltooi. Sy werk die afgelope 9 jaar as ‘n veiligheidsbeampte by Kudumane Manganese Resources, en woon in Dibeng, Kathu.
Haar modelloopbaan begin in alle erns in 2021 nadat sy by die Dawrette Heyns Academy & Finishing-skool in Upington aangesluit het. Tydens haar eerste kompetisie-deelname in Junie 2021 verower sy die toekennings vir Mev. Fashionista en Mev. Debutant.
Onder die aanmoediging, leiding en afrigting van onderwyseres Dawrette Heyns , eens ‘n finalis in die Mev. Suid-Afrika-kompetisie, het Rika vir die Mev. Noord-Kaap-kompetisie ingeskryf.
Sy tree uiteindelik as die wenner uit, en almal kan sien hoekom. Grasie en finesse is ingebore by haar, en kan nie met geld gekoop word nie.
“In hierdie kompetisie het ek my droom uitgeleef om iets goeds vir my medemens te doen en om hoop te gee aan ons gemeenskap. Nie alles wat ons doen is hopeloos nie, en ek wil hê mense moet weet dat hoe hulle grootgeword het, nie noodwendig hulle toekoms moet bepaal nie. Ek wil verandering bring in my gemeenskap, en om dit te bereik moet ék die verandering wees.
‘Hierdie titel het baie verantwoordelikhede, maar ek is gereed vir alles wat hierdie titel vereis, en ek sal dit met die beste van my vermoëns vervul.’
Hier is Rika Cloete saam met haar twee prinsesse, 1ste prinses Carmen Bock en 2de prinses Jo-Marie Becker.
Die fotograaf is Caren van Vuuren (van Vuuren Photography) van Johannesburg.