Die veerboot sak nou teen ‘n hengse spoed die donker water in, en prente uit die Titanic-fliek begin nou deur my gedagtes jaag. De-Bra s’n ook, as ek haar stywe gesigsuitdrukking lees. En ons weet nie eers watter kant toe die wal is nie. Is hier haaie wat ons sal vreet? Kan De-Bra swem?
Chaos bars skielik buite los, maar ek en sy roer nie. Ons sit soos Lot se vrouens – dis nou as hy ‘n veelwywer sou wees: penorent, stokstywe rûe, en spoeg wat in ons monde versamel sonder dat dit gesluk word.
Die geluid van hordes metaalfluitjies vul die buitelug vanuit alle oorde, en bevele word geblaf in ‘n taal wat ons nie verstaan nie. Dan hoor ons mense wat skreeu, gevolg deur ‘n plons in die water ‘n paar sekondes na die bloedstollende gille.
De-Bra draai haar gesig in stadige aksie na my. “Suster, hulle gooi mense van die veerboot af,” fluister sy. Haar oë stop skuldig op die plek waar haar vingers se buitelyne steeds op my wang sigbaar is, maar sy sê niks. Ek voel die hou nogsteeds.
De-Bra ‘suster’ my net as sy diep bekommerd is oor iets, en dit gebeur selde. Diep in my agterkop besluit ek dat dit veiliger is om nie meer moerig vir De-Bra te wees oor die klap nie. Dalk moet sy my netnou beskerm as die spul óns van die veerboot wil afsmyt. Ek skuif onbewustelik nader aan haar sagte bobeen en sy protesteer glad nie.
Staal skreeu protesterend in ons ore voordat ‘n harde klapgeluid volg. Ek neem aan dis die ryvlak wat nou toegeslaan het sodat ons uiteindelik kan vertrek.
Dit is toe so. Nog ‘n duidelike bewys dat ek heldersiende is. My ouma het dus altyd die waarheid gepraat.
Enjins brul aan die gang en ons trek in ‘n egalige beweging weg.
Drywers en passasiers peul kort daarna uit hulle karre uit, maar ek en De-Bra sit. Mens weet mos nooit wat in die vreemde naglug skuil nie. Ons oë volg elkeen wat by ons Venture verbyloop, agterdog duidelik in ons oë te sien.
“As iemand dit sou durf waag om ons te probeer ontvoer,” begin De-Bra skielik praat, “dan gaan hulle sleg tweede kom,” belowe sy halfhartig.
Nie dat dit my laat beter voel nie. In my kop sien ek hoe ek weer onder haar hemp probeer inklim terwyl sterk hande my gillend uitpluk en die naglug indra.
Die veerboot begin na ‘n lang ruk sywaarts draai en dan kan mens hoor hoe die enjins stadig krag verloor.
“Sê nou dis Somaliese seerowers wat ons wil oorrompel?” vra ek skor. “Niemand by die huis het genoeg geld om ons lewendig terug te koop nie.”
Ons twee wip soos ons skrik toe die drywer die deur ooppluk. “We are on the other side,” glimlag hy en skuif agter die stuurwiel in.
“Sy stem klink soos die duiwel s’n. Sy other side kan letterlik die hel wees,” mor ek. “En hy kan maklik ‘n slawehandelaar vir seksringe wees.”
Gelukkig was die other side letterlik die other side van die lagoon. Die loopvlak kraak weer skreeuend oop en aan die gedreun lui ek af dat die voetgangers wat ná die voertuie op die veerboot geklim het, eerste die tuig verlaat.
Ons drywer wag geduldig vir die voertuie wat voor ons geparkeer is om in die pad te val voordat hy ook stadig wegtrek.
En so, in die donker, arriveer ek en De-Bra by Diani Sea Resort.
Die drywer spring flink uit en pak ons bagasie op ‘n trollie voordat hy beduie dat ons hom moet volg.
Die ontvangsarea skreeu Afrika, nes elke sel op ons velle teen nou ewenaar-hitte gil. Dis bedompig, en die lug is hiper-versmorend.
‘n Ander man gryp die trollies en wys dat ons hom moet volg. Hy volg ‘n nou paadjie en gaan staan voor ‘n deur wat hy uiteindelik oopgesluit kry. “Ah, jambo,” giggel hy guitig en bekyk ons twee van kop tot tone. “Quiet here, no disturbing,” knip-oog hy en verdwyn vinnig nadat hy ons tasse net aan die binnekant van die deur neergeplak het.
Ek en De-Bra snap dadelik hoekom die ou so guitig was.
Die reuse bed is pragtig versier met blomblare wat ‘Happy Honeymoon’ uitspel…
Sjit…