Skip to main content

Bee-Bee die By –  Buffel en Bobbejaan

Bee-Bee die By het pas haar tweede enkelsnit, Buffel en Bobbejaan, vanaf haar vollengte album met dieselfde naam vrygestel.

Dié  unieke, mollige bytjie, wat deur die Heuning­-sangeres Jeanette Pretorius vergestalt word, is amper-stamper net so gewild soos Carike Keuzenkamp se Ghoempie en Ghoeghoe.

Bee-Bee die By, wat sowat agt jaar oud is, het vroeër vanjaar haar toetrede tot die kindermark gemaak en haar eerste liedjie Bee-Bee die By waarin sy haarself aan die kleingoed bekendgestel het, het die kinders in suikersoet ekstase gehad.

Die karaktertjie verduidelik op ’n prettige wyse vir kinders konsepte soos kleure en vorms, en natuurlik deel sy ook haar liefde vir ander diere met die kinders. “Ek is lief vir alle diere, want diere speel so ’n belangrike rol in die natuur,” sê Bee-Bee.

En maak jouself maar reg; Buffel en Bobbejaan is net so prettig soos ’n mallemeule-rit by Gold Reef City.

Die liedjie gaan dié keer oor diere – en natuurlik is die ou buffel (wat deel vorm van Suid-Afrika se groot 5) en die lastige bobbejaan (kampeerders is natuurlik bewus van die bobbejaan[streke]) die hoofkarakters in die liedjie. “Die buffel en bobbejaan is net sulke lekker karakters,” sê Jeanette, wat ook al Bee-Bee se liedjies self skryf.

Net soos die vorige Bee-Bee-liedjie is Buffel en Bobbejaan nie net ’n jolige saamsing-liedjie nie, maar speel dit ook ’n opvoedkundige rol. Die kinders word geleer van die diere in die wildtuin en die ekologiese rol wat die bobbejaan en die buffel ook in die natuur speel.  

Buffel en Bobbejaan het in tipiese Bee-Bee-styl ’n polsende ritme en maklike woorde wat ’n kleinding sommer vinnig sal snap. Die ‘b’ allitereer ook té heerlik op die tong… “Ek het heel toevallig die b-klanke gekies. Dit is maklike klanke en kinders onthou dit,” sê Jeanette.

Bee-Bee se liedjies – dus ook Buffel en Bobbejaan – is pasknap vir Jeanette se stem. Sy is net een van dáárdie sangeresse wat met gemak tussen die verskillende note kan dans. Wat Jeanette se liedjies ook uniek maak is die feit dat haar dogtertjie, Megan, se soet stemmetjie ingespan is. Dus hoor kinders nie net “die tannie-se-stem” nie, maar ook “maatjies se stemme” waarmee hulle dadelik kan vereenselwig.

Jeanette het die Bee-Bee-karakter gedurende die vlak 5-grendeltydperk geskep. Sy het vroeër gesê dat sy haar dogtertjie met huiswerk moes help en het besef dat daar ’n leemte in die opvoedkundige musiekmark is.  En voordat jy nog bytjie kon sê, is Bee-Bee reeds in Jeanette se kreatiewe verbeelding gebore.

Sy het toe al reeds ’n hele paar liedjies vir Bee-Bee geskryf, maar het die kindermark met Bee-Bee die By getoets. Sy het die toets met ’n onderskeiding geslaag.

Bee-Bee die By tree gereeld by kleuterskole op en haar program is al bykans net so vol soos ’n kalbas vol heuning.  Buffel en Bobbejaan is net een van die liedjies op die album. Ander liedjies sluit in Goeie maniere, Hier op die plaas, My lyfie, Die tandeborsel liedjie, Vorms, Seisoene, Gehoorsaamheid en Kleure van die reënboog. Die vollengte album, waarop daar tien kinderliedjies verskyn,  is nou aanlyn beskikbaar.

Hier is die skakel:  https://BeeBeeDieBy.lnk.to/BeeBeeDieByMB

 

 

Leave a Reply

error: Content is protected !!