Skip to main content

Liewe Katrien

Ek sit met ‘n probleem wat potensieël ‘n klein oorlog in my huis kan veroorsaak. Ek vermoed dat my tienerdogter rook, maar ek wil byvoeg dat dit net ‘n vermoede is. Hoe bevestig ek die vermoede en wat doen ek as my vermoede reg is?

Moeder Hen

Liewe Moeder Hen

Daar is ‘n paar algemene riglyne wat kan aandui dat jou kind rook. Die eerste teken is ‘n rookasem, maar dit is nie altyd moontlik om dit te ruik nie aangesien tieners wat skelm rook dit sal verdoesel deur voortdurend kougom te eet.

Nog ‘n ‘weggee’ is geel tande. Die nikotien en teer van sigarette dring deur die klein porieë in die tande se emalje en laat die tande verkleur.

Jou tiener kan ook moontlik ‘n chroniese hoesie of kuggie ontwikkel. Dit is omdat die silia, – beweeglike, klein vingeragtige uitsteeksels op die oppervlak van lugwegselle in die longe wat die lugweë uitvoer en help om slym op en uit die longe te verwyder -, ‘n deel van hul vermoë verloor om chemikalieë en ander vreemde materiale uit die longe te stoot. As gevolg hiervan bly gifstowwe baie langer as gewoonlik agter in rokers se longe. In reaksie hierop moet die longe meer hoes om die chemikalieë te verwyder.

As jou kind skielik ‘n kort humeur ontwikkel kan dit ook aandui dat sy rook. Sigarette beïnvloed sekere chemikalieë in die brein. As rokers dus vir ‘n ruk lank nie ‘n sigaret gerook het nie, laat die begeerte na nikotien hulle prikkelbaar en angstig voel. Hierdie gevoelens kan tydelik verlig word as hulle ‘n sigaret aansteek.

Soms rook tieners net om ‘in’ te wees by maats. Wat ookal die geval is, ek hoop dat dit jou vrae beantwoord.

Leave a Reply