Skip to main content

RAM 21 MAR – 19 APR

Met Pluto wat duidelik sigbaar is in die komende week, sal jy gereed wees vir transformasie. Die feit dat dit lente is help ook met jou gemoed.

Wees waaghalsig. Doen dinge vir jouself, al beteken dit dat jy daardie haarstuk aanskaf waaroor jy altyd droom, of dalk ‘n effe groter borsgedeelte as jy ‘n dame is. Ruil jou ou motor in op ‘n nuwe, want dit wat jy in hierdie week aanskaf sal jou vir donkiejare hou. Kyk dus na kwaliteit, nie kwantiteit nie. En ek praat nie nou net van karkoop nie, as jy weet wat ek bedoel.

 

STIER 20 APR – 20 MEI

Lente is in die lug en ook in jou hart. Jy kom deesdae agter dat jy moeg is vir jou vaal klerekas. En jy is reg oor die vaal gedeelte. Die ‘ou jy’ klop aan jou binneste, en wil vrygelaat word tussen helder kleure, blomme, en kaalvoetdans.

Dit is die regte tyd om al jou ou plate uit te pluk. Herleef die sestiger jare én die 70s. En dan as daardie musiek deurgespeel is, kies al jou gunstelinge uit die 80s en dans totdat jy nie meer kan nie. Tyd vlieg. En wie gee om wat die bure sê of dink. Stuur foto’s van jou nuwe blomme kledy.

 

TWEELING 21 MEI – 20 JUN

Met die son wat vandeesweek stewig in Skerpioen sit, sal ek jou aanraai om jou woorde twee maal te bedink voordat jy iets sê wat kon gebly het. Jou vrou onthou dalk net op die verkeerde tyd dat jy terloops genoem het dat sy brooddeeg-sag was, en dan is matraspolka uit soos boomrook in ‘n kerk.

Die dames moet liefs hierdie week uit die kollig en publiek bly. Al wil jy hóé graag ‘n vriendin in die bek ruk, moet jy alles in jou vermoë doen om dit nie toe te pas nie. Sy gaan dalk net die een wees wat in ‘n noodgeval jou kinders by die skool moet haal, of ‘n koek oplaai voordat die winkels toemaak.

Om jou gedagtes van jou skerp tong te herlei, dra gedigte hardop voor. Ek stel die laaste 71 reëls van akte 3, toneel 2 van Henry VI van Shakespeare voor. Dit is terloops sy langste gedagtespraak.

 

KREEF 21 JUNIE – 22 JULIE

Mercurius is in ‘n vinnige wentelbaan in jou komende week, en dit gaan vir jou voel asof jy nie genoeg tyd kry vir alles nie. Jy gaan oral probeer vure doodslaan en saans voel asof jy niks vermag het nie.

Haal diep asem. Ruik die blomme, al moet jy een of twee soorte by die bure gaps as jy nie self ‘n tuin het nie. Spandeer tyd saam met jou diere. As jy nie troeteldier het nie, loer gerus oor die muur in jou bure se erwe.

Die besige week sal mettertyd afskaal en teen Saterdag kan jy jou skoene uitskop en net ontspan. Behalwe as jy die Springbokke se wedstryd gaan kyk. Want van ontspan gaan daar geen sprake wees nie.

 

LEEU 23 JULIE – 22 AUG

Dit voel asof jy vandeesweek aan breinwaas lei. Jy vergeet dinge en wil net slaap. Dit is omdat jy hopeloos te hard gewerk het die afgelope paar maande, en die stres van die masker-manie begin jou nou onder kry. Kyk, as jy moet onder wees, maak seker dat hy/sy wat bo is darem die onder wees die moeite werd maak. As jy enkellopend is, skakel gerus ‘n paar batterygedrewe speelgoed aan. Kenners vertel graag dat ‘n orgasme hormone in die brein vrystel wat jou gelukkig en lui sal laat voel. Dit het glo iets met die parasimpatiese (nee, dis nie wat jy dink nie, kry jou gedagtes uit die sloot, ek bedoel die voor, ek bedoel die ashoop…) senuweestelsel te doen.

 

MAAGD 23 AUG – 22 SEP

Jy sal vandeesweek ‘n bietjie bekommerd wees oor jou gesondheid. Jy begin agterkom dat jy krake en skete op plekke het wat altyd goed gefunskioneer het. Jy hoef eers werklik bekommerd te raak as jy vooroor buk en jou tone raak, maar nie weer regop kan kom nie. Andersins is jy nog oukei.

As jy agterkom dat jy ‘n effens kuggie ontwikkel het, is daar ‘n duidelike rede daarvoor. Jy moet iets van jou gewete af kry, m.a.w. jy moet iets wat jy al te lank uitstel vir iemand sê. As jy lief is vir iemand, s dit. As jou bure jou irriteer, sê net mooi niks. Iemand moet jou diere voer wanneer jy met vakansie gaan.

 

WEEGSKAAL 23 SEP – 22 OKT

Jou gedagtes loop vandeesweek ‘n ver pad. Terug na daardie een op wie jy jou hart verloor het in die hoërskool. Elke ding wat jy raaksien voer jou terug na die ‘goeie ou dae’. Daar is niks fout daarmee nie, maar moenie toelaat dat dit die mense om jou beïnvloed nie. Onthou, hulle is deel van jou ‘hier en nou’. Nostalgie kan mens soms in die moeilikheid bring.

‘n Ou stokperdjie prikkel ook weer jou belangstelling. Dalk is dit nou ‘n goeie tyd om weer die bokse vol ou seëls of die houers met jou muntversameling uit te pak. Jy het dalk net iets daar êrens versteek wat waardevol is. Indien nie, geniet net die lek en plak, of munte sorteer.

 

SKERPIOEN 23 OKT – 21 NOV

Iets omtrent die kuns van broodbak of koeke versier het jou nog altyd bekoor. Nee, dit maak nie van jou ‘n ‘sagte mens’ as jy manlik is nie. Van die beste kokke wat ek ken is net gewone mans. Probeer dit gerus. As jy vroulik is, sal jy werklik ‘n versierklas geniet, en wie weet, dalk skep dit vir jou nuwe geleenthede om ‘n ekstra inkomste te hê.

Takt is vandeesweek nie een van jou goeie punte nie, en iets wat jy sê gaan alle hel laat losbars. Onthou net, jy kan jou oë toemaak as jy vroulief se ligte snor of manlief se bos neushare wil miskyk wanneer jy hom/haar soen. Dit veroorsaak minder probleme.

 

BOOGSKUTTER 22 NOV – 21 DES

As jy op ‘n plaas grootgeword het, gaan iets uit jou kinderjare jou weer prikkel. Maak seker dat wat ookal jou aandag steel tot jou voordeel gebruik kan word. Veral as jy daarmee geld kan maak. In hierdie dae is enige ekstra sente welkom.

Dierliefhebbers gaan in die versoeking kom om ‘n nuwe troeteldier aan te skaf. Moet nou nie oorboord gaan nie. Begin met ‘n diertjie wat nie ‘n plaas se prys gaan kos nie, en ook nie al jou aandag in beslag gaan neem nie. Jou gade gaan dalk afgeskeep voel. Butiendien, DBV hondjies is snoesig, en sag, en eensaam. Help een of twee van hulle.

 

STEENBOK 22 DES – 19 JAN

Drama is vandeesweek jou middelnaam. Dis asof jy net nie uit die chaos kan ontsnap nie, en al wil jy dit nie erken nie, geniet jy dit tog in die geheim. Dis asof jy beter werk en funksioneer onder druk. Daar is ander wat dit ook raaksien. Dit sal beslis in die nabye toekoms in jou guns tel.

Jou hart hunker na die see of die bosveld. Probeer om vir ‘n lang naweek weg te breek. Daar is niks so lekker as om persoonlike batterye te herlaai nie, al beteken dit dat jy seesand in jou baaibroek of ‘n bosluisbyt opdoen.

 

WATERDRAER 20 JAN – 18 FEB

Jy ontdek ‘n ou tassie vol herhinneringe en dit is dalk net die regte rigting vir skryfwerk. As jy ‘n digter of skrywer is gaan jy voel dat jy iets wil neerpen hierdie week. Gaan loer gerus op die internet vir plekke waarheen jy jou woorde kan stuur. Jy mag dalk net ‘n kompetisie of twee wen. Soms dien woorde ook as terapie, en as jy ander kan bekoor daarmee, hoekom nie?

Die wêreld van kannabis-olie bekoor jou in die geheim. Niemand weet dat jy al daaraan gedink het om byvoorbeeld vrugtebome met daggaplante te baster nie. Probeer dit gerus, maar onthou dat daggaplante beter werk as jy dit ‘smee’ saam met plante met dieselfde basis. Kyk gerus na tamatieplante.

 

VIS 19 FEB – 20 MAART

Dit is ‘n luilekker week vir jou, en soos ‘n tipiese vis kan jy die branders of kabbelende water in jou gedagtes hoor wanneer jy saans tot rus kom. Jy kort ‘n vakansie. As jy nie alleen kan gaan nie, probeer om dit sonder kinders te doen. Trek toutjies en deel jou kind/ers uit aan familie vir ‘n paar dae. Dit kikker dalk net jou liefdeslewe op.

‘n Vriend/vriendin van wie jy vir jare nie gehoor het nie, kontak jou uit die bloute. Moet nou nie jou tyd mors en wonder agter gesluierde oë wat die rede vir die opspoor was nie. Vra dit sommer prontuit. Ek het ‘n idee dat die antwoord jou gaan verras.

Leave a Reply

error: Content is protected !!